GEORGE NUUS - Maxwell Meas, 'n voormalige superintendent van siviele ingenieursdienste, sê hy kan nou op sy toekoms in konstruksie konsentreer ná sy lang uitgerekte arbitrasieproses teen die George-munisipaliteit vandeesmaand tot 'n einde gekom het.
Die arbitrasiehof het verlede Donderdag, 10 Oktober, beslis dat die munisipaliteit hom 'n bedrag van R100 000 moet uitbetaal.
Meas is sy pos as superintendent van riolering in Februarie 2018 kwyt nadat hy deur die George-munisipaliteit afgedank is. Hy is skuldig bevind aan drie van vier klagtes teen hom wat verband hou met 'n 2013-tender vir die onderhoud van rioolpypleiding.
Ofskoon Meas eerder gehoop het vir 'n uitkoms waar hy weer in sy pos aangestel word, berus hy hom by die hof se uitspraak.
In 2017 het die munisipaliteit 'n arbitrasiesaak teen twee ander amptenare, wat by dieselfde saak betrek is, verloor.
George-munisipaliteit moes 'n bedrag van meer as R115 000 aan Sibonelo Ninela, superintendent van pompstasies, en Adri Pienaar, 'n beampte in die munisipale voorsieningsketting, uitbetaal weens onregverdige werkspraktyk. Hulle was albei vir twee maande geskors. Die voormalige direkteur van siviele dienste, Harold Basson, was ook onder die spervuur oor die tender.
Klagte teen al drie is later teruggetrek.
Munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het by navraag gesê dat die munisipaliteit nie kommentaar gaan lewer oor personeelaangeleenthede nie.
Aanklagte teen Meas
Tydens Meas se dissiplinêre verhoor is bevind dat hy oneerlik was omdat hy nie sy belange verklaar het nie. Meas was deel van 'n komitee wat besluite oor die betrokke tender geneem het. Die eienaar van die maatskappy wat die tender ontvang het, was in 'n stadium in 'n romantiese verhouding met Meas se broer. Volgens Meas was dit eers 'n geruime tyd nadat die tender toegeken is. Sy broer is nie 'n werknemer by die munisipaliteit nie.
Meas is ook skuldig bevind aan growwe nalatigheid wat verband hou met uitbetalings, omdat hy betalings goedgekeur het sonder om seker te maak of die werk wel gedoen is.
Meas het aan die George Herald gesê daar was geen ongerymdhede nie.
"Al die werk is gedoen wat gedoen moes word. 'n Monitor wat in my afdeling werk, het aan my terugvoer gegee. Die probleem het ingesluip toe die munisipaliteit werksopdragte versoek het vir elke faktuur wat ontvang is.
Ons het op die templaat van die vorige werksroetine gewerk, aangesien die onderhoudswerk identies is. Hierdie werkswyse is bevraagteken."
Meas is aanvanklik ook aangekla vir die afteken van bedrae groter as R30 000, waarvoor hy nie magtiging gehad het nie. Hy is op hierdie aanklag onskuldig bevind.
"Ek is net bly alles is oor en verby," het Meas gesê.
"Dit was 'n rowwe tyd vir my gesin. Ek fokus nou op my eie konstruksiemaatskappy, Max 21st Century Projects and Event Management, en hoop om binnekort weer op die been te kom."
A former superintendent in Civil Engineering Services, Maxwell Meas, says he can now focus on his future in construction following a lengthy arbitration process that came to an end this month. meas was fired by the George Municipality in February 2018. He was found guilty on three of four charges against him, relating to a 2013 sewer pipline maintenance tender, Meas reported the matter to the Commission for Conciliation, Mediation and Arbitration (CCMA). The arbitration court ruled last Thursday, 10 October, that Meas be paid an amount of R100 000 by the municipality.
Lees verwante artikels hier:
- Goeie naam in gedrang
- Alles nie suiwer by siviel
- Unfair labour practice cost municipality
- Charges dropped against superintendent
- All charges dropped against civils director
- Director of civil engineering back at work
- Officials suspended director on leave
- Director and 3 officials on special leave
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'