SKOOL NUUS - Pacaltsdorp Primêre Skool is uiters trots op Ethan Botha, 'n gr. 3-leerder wat gekies is om Suid-Afrika in trampolienspring by die streek 5-kompetisie in Pretoria te verteenwoordig.
Hy benodig egter finansiële ondersteuning om hierdie besonderse geleentheid moontlik te maak.
Die kompetisie vind van 4 tot 8 Desember plaas en bied dié jong sportster die geleentheid om sy talent op 'n internasionale verhoog ten toon te stel.
Die beraamde koste beloop R10 670 en sluit amptelike drag, kompetisie-inskrywingsgeld, verblyf en vervoer in.
"Die skool wil graag 'n beroep op die skoolgemeenskap, plaaslike besighede en die publiek doen om Ethan te ondersteun.
"Enige bydrae, groot of klein, sal opreg waardeer word en help om hierdie geleentheid vir hom moontlik te maak," sê die skoolhoof, Muscha Manuel.
"Ons bedank almal wat bereid is om Ethan te ondersteun. Saam kan ons hierdie talentvolle leerder help om Suid-Afrika met trots te verteenwoordig. Dit is ook 'n wonderlike geleentheid vir hom om op 'n hoër vlak ondervinding op te doen en blootstelling te kry."
Mense wat graag 'n bydrae wil maak, kan Muscha Manuel by die skoolkantoor by 044 878 2019 bel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’