VERMAAK NUUS - Die bekende gospelsanger Newie Nthabalala se Song of Hope-toer het die afgelope naweek ’n besondere draai in George gemaak.
Die gebeure het Saterdag reeds afgeskop met ’n konvooi deur Pacaltsdorp, gereël deur Lekrr J Entertainment.
Polisielede van die Pacaltsdorp-stasie, munisipale verkeersbeamptes en verskeie motorfietsryers het aan die optog deelgeneem.
Nie net is opwinding weens Newie se koms op Sondag geskep nie, maar die polisie het die geleentheid gebruik om misdaadvoorkomingswenke met die inwoners te deel.
Peter Jaftha van Lekkr J Entertainment het die geleentheid as besonders beskryf. “Dit was beslis een vir die boeke,” het hy gesê.
Newie het Sondagoggend vroeg by die George-lughawe geland, waar George-burgemeester Browen Johnson en ’n groep opgewonde bewonderaars haar verwelkom het.
By Wimpy het die verwelkoming in ’n spontane samesang ontaard toe die mense saam met haar haar gewilde liedjie, Song of Hope, begin sing het.
Die hoogtepunt was Newie se besoek aan Eagles Nest Ministries in Pacaltsdorp, waar sy ’n boekondertekening van haar Do not lose hope gehou het en voor ’n volgepakte gehoor opgetree het.
Newie het in 'n volgepakte Eagles Nest Ministries-saal in Pacaltsdorp opgetree. Foto: Megan Cunningham
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’