GEORGE NUUS - Die departement van siviele ingenieurswese is sedert 2016 in die kollig nadat die voormalige direkteur, Harold Basson, dissiplinêr aangekla is.
In hierdie voorval, wat verband hou met 'n 2013-tender, is nog kollegas geïmpliseer, naamlik twee superintendente, Maxwell Meas (riool) en Sibonelo Ninela (pompstasie).
Die aanklagte teen beide Basson en Ninela is uiteindelik teruggetrek, maar die ondersoek teen Meas het voortgegaan.
Die einde van die pad
Meas is in November verlede jaar skuldig bevind op drie van die vier klagtes teen hom.
Hy het Maandag sy brief van ontslag ontvang.
Daar is onder andere bevind dat hy oneerlik was omdat hy nie sy belange verklaar het terwyl hy deel was van die komitee wat besluite neem oor die tender nie.
Meas het 'n noue vriendskap met die vrou gehad wat die tender gekry het.
Hy is ook skuldig bevind aan growwe nalatigheid wat verband hou met uitbetalings omdat hy die uitbetalings goedgekeur het sonder om seker te maak of die werk wel gedoen is.
Hier gaan ons al weer
Ofskoon die klagtes teen Sibonelo Ninela wat met die 2013-tender verband hou, teruggetrek is, is hy in Mei verlede jaar aangekla oor ernstige wangedrag.
Hierdie saak word steeds ondersoek en die uitkoms daarvan is nog nie bekend nie.
In 'n brief aan Ninele waarin hy in kennis gestel word van sy werkgewer se intensie om hom te skors, word die rede as volg verstrek:
"Insubordinasie deurdat jy weier om 'n wettige en redelike opdrag te gehoorsaam om die munisipale bestuurder 'n skriftelike verslag te gee wat verband hou met 'n ondersoek transaksie met NJ Construction."
Ninela is steeds werksaam by die departement en nog nie op hierdie aanklagtes verhoor nie. Die ondersoek duur voort.
Oortydgeld bring versoeking
'n Junior klerk van siviele ingenieurswese het skuldig gepleit op aanklagte van bedrog en diefstal van meer as R8 000.
Ilse Buys het in Januarie vanjaar skuld erken op die aanklagte.
Sy het vandeesmaand glo twee geleenthede gehad waartydens versagtende omstandighede aangehoor kon word, maar het nie daarvoor opgedaag nie.
Die uitslag van haar tugverhoor is nog nie bekend nie.
Die diefstal hou verband met oortyduitbetalings einde 2016 aan tydelike werkers van die departement siviele ingenieurswese.
Die tydelike werkers het blykbaar dubbele betalings vir oortyd ontvang. Buys het hulle daarvan ingelig en hulle het die kontant aan haar betaal.
Die geld is egter nooit aan die munisipaliteit oorbetaal nie. Dit het op die lappe gekom nadat die munisipaliteit hulle fout eers in Februarie 2017 agter gekom het.
Buys het glo die diefstal skriftelik erken, verskoning gevra en ook daartoe ingestem om die geld terug te betaal tydens 'n mediasie-vergadering in Junie verlede jaar. Die beweerde bedrog en diefstal is toe aan menslike hulpbronne gerapporteer.
Buys is nietemin in Julie 2017 permanent aangestel. 'n Paar dae na haar aanstelling is Buys geskors met volle betaling.
Sy is steeds geskors, maar nog indiens van die munisipaliteit.
Al drie amptenare is vir kommentaar genader, maar niks is teen druktyd ontvang nie.
Chantel Edwards-Klose, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die munisipaliteit sal nie kommentaar lewer oor interne administratiewe en of menslike hulpbronne kwessies nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'