GEORGE NUUS - 'n Vrou wat na bewering ernstig deur haar man aangerand is, moes ná die voorval in die George-hospitaal opgeneem word.
Haar man verskyn na verwagting vandag, Dinsdag 17 November, in die Thembalethu-landdroshof in George, waar sy moontlike vrylating op borgtog ter sprake sal kom.
Die vrou het volgens haar dogter (28), ernstige beserings tydens die voorval opgedoen. Die aanranding het na bewering in die vroeë oggendure van Saterdag 14 November plaasgevind.
Die dogter, wat haar stiefpa se vrylating op borgtog teenstaan, sê haar ma is reeds jare lank aan mishandeling onderwerp.
Volgens haar het die mishandeling reeds plaasgevind toe sy nog in gr. 2 was.
Sy beskryf haar stiefpa as uiters jaloers en manipulerend en sê haar ma is oor die jare fisiek en emosioneel afgebreek.
"Sy kan nie eens haar eie familie 'n drukkie gee nie," sê sy. Volgens haar het die jare lange mishandeling ook 'n sigbare tol op haar ma geëis.
"Sy is maar in haar laat 40's, maar sy lyk soos iemand wat al diep in haar 50's is."
Die dogter het saam met vriende en familie van die slagoffer voor die hof byeengekom om hul teenkanting teen borgtog te wys.
Die polisie is om kommentaar en bevestiging van die besonderhede genader.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’