GEORGE NUUS - Die man (34) wat in verband met die ernstige aanranding van sy vrou in Thembalethu in hegtenis geneem is, bly in aanhouding en sal eers Maandag 23 November in die Thembalethu-landdroshof verskyn.
Hy sou na verwagting vandag, Dinsdag 17 November, in die hof verskyn, maar het nie voorgekom nie.
Die polisie het intussen bevestig dat die Thembalethu-speurders 'n saak van poging tot moord ondersoek.
Volgens ao. Christopher Spies, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, is die polisie op 15 November na die George-hospitaal ontbied, waar hulle 'n vrou (44) aangetref het wat ernstig aangerand is.
Sy het verskeie kopbeserings opgedoen. Die aanranding het na bewering vroeër in Tabatastraat, Sone 6, Thembalethu, plaasgevind.
'n Man (34) is later in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Die vrou se dogter (28) het vroeër aan George Herald vertel dat haar ma reeds jare lank aan mishandeling onderwerp word.
Volgens haar het die mishandeling reeds plaasgevind toe sy nog in gr. 2 was. Sy beskryf haar stiefpa as uiters jaloers en manipulerend en sê haar ma is oor die jare fisiek en emosioneel afgebreek.
Die dogter het vroeër vanoggend, Dinsdag 17 November, saam met vriende en familie van die slagoffer voor die hof byeengekom om hul teenkanting teen borgtog te wys.
Sy het vroegmiddag bevestig dat haar ma weer terug is na George-hospitaal omdat dit glad nie met haar goed gaan nie.
Die polisieondersoek duur voort.
Lees 'n vorige berig hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’