Update
GEORGE NUUS - Vonnisverrigtinge in die saak teen plaaslike tandarts, dr. Ian Venter, is verlede Donderdag in die George-streekhof tot 8 November uitgestel omdat die staat se maatskaplike werker, Estelle Wolhuter, weens mediese redes nie kon getuig nie.
Verrigtinge het Woensdag 10 Oktober in die George-streekhof begin. Venter word deur John Gillespie verteenwoordig, Hankie Marx tree op vir die staat en die saak dien voor streeklanddros Francis Makamandela.
Venter is op 11 April skuldig bevind op 'n aanklag van seksuele aanranding van 'n minderjarige ná hy in 2015 'n 13-jarige seun, wat by sy huis in Heroldsbaai oorgeslaap het, seksueel betas het.
Voorvonnisverslae
Woensdag is die voorvonnisverslag van die maatskaplike werker, Arina Smit, wat deur Venter en Gillespie aangestel is, in die hof uitgelees. In haar verslag kom Smit tot die gevolgtrekking dat Venter 'n lae tot medium risiko oortreder is. Die verslag is saamgestel ná verskeie onderhoude met onderwysers, familielede en vriende van Venter, gehou is.
Die voorvonnisverslag van die polisie se forensiese maatskaplikewerker, Haylie Koen, is Donderdag in die hof uitgelees.
In haar verslag, na sy die slagoffer geassesseer het, sê Koen dat hy dramatiese gedragsveranderinge toon. "Die slagoffer isoleer homself van ander en wou nie na die misbruik skool toe gaan nie. Hy het vroeër baie goed gedoen op skool, maar sedert die voorval het sy punte verswak. Hy is nou in 'n kollege waar sy punte weer verbeter het. Hy was 'n topatleet, maar het alle belangstelling in atletiek en enige ander buitemuurse aktiwiteite verloor. Sy persoonlikheid het verander en hy is teruggetrokke. Die slagoffer het ook gesê dat hy nooit die herinnering van die voorval sal kan vergeet nie," het Koen gesê.
Vorige oortreding
Venter is in November 2014 tot vier jaar korrektiewe toesig gevonnis nadat hy skuldig bevind is op 'n seksklag waarby 'n minderjarige seun betrokke was.
Streeklanddros Eugenia Jacobs, het toe gelas dat Venter nie met kinders of in die omgewing van kinders mag werk nie.
Hy is daarna, in Mei 2017, by sy praktyk in die middedorp in hegtenis geneem ná die nasionale vervolgingsgesag (NVG) ‘n klag teen Venter ingedien het. Die NVG het inligting ontvang het dat Venter steeds kinders behandel.
Uitstel betreur
Na die verrigtinge het die ouers van sy eerste slagoffer aan George Herald gesê hulle voel die korrektiewe toesig wat hy destyds gekry het nie voldoende was nie. "Ons wil graag afsluiting hê en aangaan met ons lewens. Duidelik was die straf destyds nie groot genoeg vir hom nie. Hy is dinge toegelaat en het reëls oortree sonder dat hy daarvoor moes antwoord en het met die eerste kans wat hy gekry het wéér oortree. Ook wil ons weet hoekom hy nie in hegtenis geneem en aangehou is na sy skuldigbevinding nie? Hoekom is sy borgtog tot nou verleng? Ander kriminele word onmiddellik in hegtenis geneem met skuldigbevinding. Wat maak hom anders dat hy spesiale behandeling kry?," het die seun se pa gevra.
Joanne Barrett van Women and Men Against Child Abuse (WMACA) was woedend na die saak teen Venter vir die soveelste keer uitgestel is. "Ons is woedend met die voortdurende vertragings. Die slagoffers en hul gesinne is dié wat sukkel om afsluiting te kry met onnodige uitstelle. Die slagoffers is prioriteit, nie die beskuldigde nie. Ons hoop dat verrigtinge van hier af glad sal verloop en 'n baie swaar tronkstraf oorweeg sal word," het sy gesê.
* The sentencing of local dentist, Dr Ian Venter was postponed to 8 November in the George Regional Court because the state's social worker could not testify due to medical reasons. Proceedings started on 10 October. Venter was found guilty on charges of sexual assault of a minor on 11 April after he sexually assaulted a 13-year-old boy at his Herold's Bay home in 2015.
Lees vorige artikels:
- Ian Venter: Vonnisverrigtinge uitgestel
- Dr Ian Venter: Vonnisoplegging begin
- Streekhofdatum vir tandarts Ian Venter
- Tandarts na streekhof vir minagting
- Tandarts se lot in April bepaal
- Dentist case progression like pulling teeth
- Venter-saak: Uitspraakdatum in 2018 vasgestel
- Opvolg: Ian Venter-saak
- Saak teen Ian Venter uitgestel
- Tandarts volgende week in hof
- Tandarts in hof oor kinder-pasiënte, kry borgtog
- Plaaslike tandarts kry borg
- Plaaslike tandarts vandag weer in hof
- Dr. Ian Venter gearresteer
- Ian Venter-saak wéér uitgestel
- Ian Venter-saak later weer in hof
- Opvolg: Tandarts ontken betasting
- Tandarts ontken betasting
- Ma van tienerseun getuig
- Tandarts-saak: Ma van slagoffer getuig
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'