GEORGE NUUS - George-tandarts, dr. Ian Venter het Dinsdag 5 Desember vir die soveelste keer in die Thembalethu-streekhof verskyn.
Daar word beweer dat Venter gedurende die aand van 11 April 2015 'n seun, toe 13 jaar oud, wat by sy huis in Heroldsbaai oorgeslaap het, seksueel betas het.
Die molesteringsaak word sedert November 2016 uitgestel.
Twee van Venter se kinders sou Dinsdag getuig. Sy regsverteenwoordiger, John Gillespie, het aansoek gedoen dat Venter se minderjarige seun in kamera getuig, maar die aansoek is nie deur die hof toegestaan nie.
Daar is toe besluit om nie die kinders as getuies te roep nie.
In haar traumaverslag het ‘n maatskaplike werker, Ninke Stanley, gesê die hof is 'n stresvolle omgewing vir 'n kind en dat dit onnodige stres en trauma sal veroorsaak indien die seun (15) in 'n opehof moet getuig.
Staatsaanklaer Hankie Marx, het die versoek teengestaan en aangevoer dat alhoewel die seun minderjarig is, hy nie die slagoffer in die saak is nie en dus in 'n opehof sal kan getuig.
Die saak is tot Woensdag 6 Desember vir slotbetoë in die George-streekhof uitgestel.
Slotbetoë is Woensdag gelewer en Venter verskyn weer op 17 Januarie in die Mosselbaai-streekhof om 'n uitspraakdatum vas te stel.
Marx het in sy slotbetoë gesê dat die slagoffer ‘n onskuldige, gelukkige seun was wat nie so ‘n storie sou kon fabriseer nie.
Gillespie het aan die hof gesê dat die geloofwaardigheid van die getuies in ag geneem moet word.
Hy het aangedui dat daar verskille in die weergawe van gebeure tussen die eerste en tweede verslae was wat die slagoffer by die polisie ingedien het.
Venter het in Oktober 2016 self in die getuiebank ingeskuif en ontken dat hy die slagoffer, 'n vriend van sy tienerseun, betas het, of die betrokke aand in die kind se kamer was.
Hy het getuig dat die slagoffer en sy seun "baie lekker saam gespeel het" en dat die slagoffer drie keer vantevore, waarvan hy weet, by hulle oorgeslaap het.
In sy getuienis het Venter ook gesê dat hy aanvaar het dat die slagoffer se ouers ingelig was oor sy agtergrond.
Hy het getuig dat wanneer maats by sy kinders wil kom kuier of oorslaap, hulle die maats se ouers moet inlig wie hul pa is en dat hy 'n vorige veroordeling het en onder huisarres is.
Oor die aand van die beweerde voorval getuig Venter dat hulle gebraai het en dat hy nadat hy die kombuis skoongemaak het, na sy kamer is en gaan slaap het.
Die slagoffer het in sy getuienis gesê Venter het by hom in die kamer op die bed kom sit.
Hy het verder getuig dat Venter hom gekielie het, na sy geslagsdeel verwys het en stelselmatig afbeweeg en hom betas het.
Hy het vir Venter gesê hy hou nie daarvan nie en hom gevra om die kamer te verlaat.
Die saak dien voor streeklanddros Francis Makamandela.
Venter is in November 2014 onder huisarres geplaas nadat hy skuldig bevind is op 'n seksklag waarby 'n minderjarige seun, toe 15 jaar oud, betrokke was.
Hy is vyf maande ná sy vonnis aangekeer vir die beweerde voorval van molestering wat tans verhoor word.
Lees verwante artikels:
- Opvolg: Ian Venter-saak
- Saak teen Ian Venter uitgestel
- Tandarts volgende week in hof
- Tandarts in hof oor kinder-pasiënte, kry borgtog
- Plaaslike tandarts kry borg
- Plaaslike tandarts vandag weer in hof
- Dr. Ian Venter gearresteer
- Ian Venter-saak wéér uitgestel
- Ian Venter-saak later weer in hof
- Opvolg: Tandarts ontken betasting
- Tandarts ontken betasting
- Ma van tienerseun getuig
- Tandarts-saak: Ma van slagoffer getuig
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'