VERMAAK NUUS - Corinne Smit se memoires, Divine ‘Dis’-Appointments - wanneer teleurstelling ’n Goddelike aanstelling word, vertel ’n aangrypende verhaal van trauma, genesing en geloof.
Die boek is op Donderdag 29 Oktober tydens ’n geleentheid by Outeniqua Family Ministries (OFM) in George bekendgestel. Die aand was ’n kombinasie van musiek, kuns, blomme en Smit se persoonlike getuienis.
In haar Christelike motiverende memoires deel Smit haar verhaal van diep trauma, pynlike lewenservarings en haar reis na genesing en herstel. Sy vertel hoe haar geloof in Jesus Christus haar deur moeilike tye gedra het.
Met die boek wil sy ander mense bemoedig en hulle herinner dat pyn, trauma of moeilike omstandighede nie hul identiteit of toekoms hoef te bepaal nie.
Die bekendstellingsaand is verryk deur musiek van Henru Pienaar op viool, begelei deur die plaaslike musikant Hannelie Khoury op klawerbord. Khoury het ook die agtergrondmusiek vir die geleentheid gekomponeer en gespeel.
Die simboliek van kintsugi, ’n Japannese kunsvorm waarin gebreekte keramiek met goud herstel word, het die boodskap van die boek weerspieël: dat God gebrokenheid kan gebruik om iets besonders tot stand te bring.
Een van die gaste, Cilmi Steyn, het die aand as inspirerend beskryf en gesê Smit se verhaal wys dat daar selfs te midde van hartseer en trauma altyd hoop is. Erica Spangenberg was die gelukkige wenner van ’n eksemplaar tydens die boekweggee.
Smit is in Suid-Afrika gebore en het in Nederland grootgeword voordat sy hierheen teruggekeer het. Sy het George sopas vir die Kaap verruil.
Sy is ’n kunstenaar en ontwerper met ’n agtergrond in beeldende kunste. Die boek se voorwoord is deur die internasionale Christenbedienaar en skrywer Nate Johnston geskryf.
Divine ‘Dis’-Appointments herinner lesers daaraan dat teleurstellings en pynlike ervarings nie die einde van ’n mens se verhaal hoef te wees nie, maar die begin van ’n nuwe hoofstuk kan wees.
Corinne Smit en Erica Spangenberg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’