GEORGE NUUS - Plaaslike tandarts Ian Venter (45), sal weer op 23 Oktober in die George-landdroshof verskyn.
Die saak is vandag uitgestel om hom die geleentheid te gee om verder met sy regsverteenwoordiger te konsulteer.
Venter, wat 'n vier jaar vonnis van korrektiewe toesig uitdien, is in Mei vanjaar by sy praktyk in die middedorp in hegtenis geneem op klagtes van minagting van die hof nadat dit aan die lig gekom het dat hy steeds kinders behandel.
Hy is in November 2014 gevonnis nadat hy skuldig bevind is op 'n seksklag waarby 'n minderjarige seun, toe 15 jaar oud, betrokke was.
Streeklanddros Eugenia Jacobs het toe gelas dat Venter se naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem word en hy daarom nie met kinders, of in die omgewing van kinders, mag werk nie.
‘n Molesteringsaak teen hom gaan op 5 Desember voort in die hof vir seksuele misdrywe in Thembalethu.
Venter het in September in die hof verskyn in verband met 'n molesteringsaak wat na bewering op 11 April 2015 by sy huis in Heroldsbaai plaasgevind het.
'n Seun (13) beweer Venter het hom seksueel betas toe hy by sy huis oornag het.
Venter ontken skuld.
Joanne Barrett, die woordvoerder van die kinderregtegroep, Women and Men Against Child Abuse, sê die gedurige uitstel van die saak maak 'n bespotting van die regssisteem en kan nie verdra word nie.
"Die klaarblyklike tekort aan begrip vir die slagoffers skree ten hemele," sê Barrett.
Klik hier vir vorige artikels:
- Tandarts volgende week in hof
- Tandarts in hof oor kinder-pasiënte, kry borgtog
- Plaaslike tandarts kry borg
- Plaaslike tandarts vandag weer in hof
- Dr. Ian Venter gearresteer
- Ian Venter-saak wéér uitgestel
- Ian Venter-saak later weer in hof
- Opvolg: Tandarts ontken betasting
- Tandarts ontken betasting
- Ma van tienerseun getuig
- Tandarts-saak: Ma van slagoffer getuig
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'