Update
GEORGE NUUS - “Dis hartverskeurend om so iets te hoor. Ons stuur ons kinders skool toe om te leer, nie om hulle te begrawe nie.”
Dit is die woorde van ’n hartseer ma wat vanoggend met George Herald oor haar gevoelens gepraat het nadat haar seun, ’n koshuisleerder by Hoërskool Pacaltsdorp, deur ’n medeleerder aangerand is.
Ofskoon haar seun die voorval oorleef het, voel sy dit kon baie anders uitgedraai het.
Die voorval het Sondagaand, 6 September, plaasgevind. Na bewering was daar geen volwasse toesig by die koshuis nie. Die hoof, Clifton Titus, het vanoggend, 11 September, aan ’n groep ongelukkige ouers en inwoners wat voor die skool byeengekom het, gesê hy is Maandag 7 September van die voorval ingelig en het daarna die nodige stappe geneem.
Die beheerraad is ingelig en dissiplinêre stappe is teen die seuns geneem. Dit is onduidelik of die omstanders van die insident ook hierdie stappe in die gesig sal staar.
Ontevrede ouers op die skoolgronde vanoggend.
Die video
Luidens gesprekke met die groep betogers wat vanoggend voor die skool byeengekom het, blyk dit dat ’n 18-jarige matriekleerder deur ’n 21-jarige gr. 10-leerder aangerand is.
’n Video wys hoe die seun van ’n bed afgetrek en herhaaldelik deur ’n ander seun geslaan en geskop word, terwyl ander leerders toekyk, lag en ’n video maak. Die slagoffer word uiteindelik na ’n ander kamer gesleep en daar gelos.
Blykbaar het die seun wat aangerand is, die volgende oggend, Maandag 7 September, ’n spieël oor die ander seun se kop gebreek. Die hoof het bevestig dat albei seuns geskors is, maar dat hulle toegelaat word om eksamen te skryf. Daar word beweer dat die gr. 10-leerder steeds op die skoolgronde gesien word en saam met sy graad eksamen skryf. Dit het tot groot ongelukkigheid onder die ouers gelei.
“Die matriekseun wat eerste aangeval is, is ’n tengerige plaaskind van Noll. Die seun wat [die volgende oggend] met die spieël aangeval is, is ’n gewilde rugbyspeler,” het Marchell Kleynhans, ’n plaaslike politikus, gesê.
Kleynhans het die gr. 12-seun se ouers in Noll gaan haal sodat hulle met die hoof kon gesels en ’n klag by die polisie kon lê.
Die groep betogers voor die skool was vroeër vandag veral ongelukkig oor die manier waarop die situasie deur die skool hanteer is, asook oor die feit dat - volgens hulle - die rugbyspeler ’n gereelde oortreder is.
’n Ander ouer van die skool het gesê al drie sy kinders was leerders aan Hoërskool Pacaltsdorp en dat die skool se leierskap nie meer dieselfde is nie. Ander beweer dat daar meermale voorvalle van aanranding en boeliegedrag by die skool plaasvind.
Nog ’n ma het gesê haar dogter is steeds ’n leerder by die skool, maar dat sy vroeër vanjaar ook voor die skool aangerand is. Volgens haar wou die hoof nie intree nie omdat die voorval buite die skool se gronde plaasgevind het.
Lees nog 'n artikel hier:
Inwoners hou optog voor Hoërskool Pacaltsdorp
Hoërskool Pacaltsdorp vanoggend omstreeks 11:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’