GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua se atlete het uitstekend gevaar tydens die Curro Podium South High Schools-atletiekbyeenkoms wat op 23 en 24 Oktober op Coetzenburg in Stellenbosch plaasgevind het.
Die Kwaggas het algeheel tweede geëindig. Die seunspan was tweede en die meisiespan vierde in die onderskeie spankompetisies.
Verskeie atlete het eerste plekke in hul onderskeie items behaal.
Nathan Koen het die seuns o. 19 se 100 m en 200 m gewen, terwyl Walters van Rensburg in dieselfde ouderdomsgroep eerste plekke in diskus en gewigstoot behaal het.
Marco Lesch het die seuns o. 17 se 400 m-hekkies gewen, terwyl Jac du Plessis in dieselfde ouderdomsgroep tweede plekke in die 1 500 m en 3 000 m behaal het. Ray Schoeman het derde in die seuns o. 17 se 110 m-hekkies geëindig, terwyl Daniel Els derde in die paalspring vir seuns o. 17 was.
Onder die meisies het Leané Koen die o. 15-spiesgooi gewen, en ook derde in diskus geëindig.
Miike Scholtz het die meisies o. 17 se diskus gewen, terwyl Tatyana Viljoen die paalspring in dieselfde ouderdomsgroep gewen het.
Megan Botha het twee podiumplekke in die meisies o. 15 se naellope behaal. Sy was tweede in die 100 m en derde in die 200 m.
Sammy de Kock het ook ’n podiumplek ingepalm toe sy tweede in die meisies o. 15 se 400 m geëindig het en terselfdertyd ’n nuwe persoonlike beste tyd opgestel het.
Watch: Sammy de Kock.
Video: SuperSport
Maria Wolfaardt het derde in die o. 15-gewigstoot geëindig, terwyl Carlien Beukman derde in hoogspring was.
Die meisies o. 19 se Sweedse aflos-span het ook ’n derde plek behaal.
Dié uitslae het tot Outeniqua se tweede plek in die gekombineerde spankompetisie bygedra.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’