GEORGE NUUS - Dr. Ewald Crause, 'n voorligtingsielkundige met meer as 20 jaar se ervaring, is onlangs as die Sielkundige Vereniging van Suid-Afrika (PsySSA) se nuwe president vir 2026/27 verkies.
Hy het aan George Herald gesê tydens sy termyn wil hy veral aan 'n meer betrokke sielkundegemeenskap werk, 'n groter praktiese en openbare bydrae deur die beroep lewer en verantwoordelike voorbereiding maak vir die veranderinge wat tegnologie en kunsmatige intelligensie (KI) meebring.
"Die posisie is 'n bitter groot eer en besondere mylpaal in my professionale loopbaan, maar ek beskou dit ook as 'n groot verantwoordelikheid."
Crause het sy opleiding in voorligtingsielkunde in 2005 aan die Nelson Mandela Universiteit voltooi en in 2013 sy doktorsgraad in sielkunde by dieselfde instansie verwerf.
Sy verbintenis met George strek terug tot 2006, toe hy by Famsa gewerk het. Hy het in 2008 by die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) aangesluit, waar hy eers as distriksielkundige gewerk het en toe later in Kaapstad die provinsiale programkoördineerder vir skoolsielkundige dienste was.
Tussen 2012 en 2016 het hy 'n privaat praktyk in George bedryf. Daarna, van 2019 tot 2022, het hy in Nieu-Seeland gewerk, onder meer as sielkundige en diensbestuurder by die Ministerie van Onderwys. In 2025 het hy hom weer op sy praktyk in George begin toespits.
Crause sê een van die grootste uitdagings in Suid-Afrika is die gaping tussen mense se behoefte aan sielkundige dienste en hul vermoë om dit te bekostig of te bereik. Daar is bekwame professionele persone, maar die druk op bestaande dienste en praktisyns is groot.
KI se aanwending in sielkunde
Crause is ook voorsitter van PsySSA se afdeling vir kunsmatige intelligensie. Hy sê KI kan reeds die beroep op verskeie maniere ondersteun. "Dit kan byvoorbeeld navorsing en professionele opleiding meer toeganklik maak, administratiewe werk verminder, groot hoeveelhede inligting help ontleed en die ontwikkeling van psigo-opvoedkundige materiaal te ondersteun."
Hy sê daar word ook ondersoek ingestel na hoe tegnologie mense kan ondersteun wat andersins beperkte toegang tot sielkundige dienste het.
"Daar is egter belangrike etiese vraagstukke. Sielkunde werk met mense se persoonlike ervarings, kwesbaarheid en vertroulike inligting. Ons moet dus baie versigtig wees oor databeskerming, die betroubaarheid van KI-uitsette en die grense van tegnologie in terapeutiese werk.
"Die uitdaging vir die volgende paar jaar is om die waarde van menslike kundigheid te behou, terwyl ons terselfdertyd bereid is om ons werkswyses te heroorweeg en op nuwe uitdagings te reageer."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’