GEORGE NUUS - Daar was feesviering, mooi herinneringe en ook 'n paar emosionele oomblikke toe Emmaüs op Saterdag 24 Oktober sy 40ste bestaansjaar met 'n spesiale damesoggend gevier het.
Die gasvroue het baie moeite gedoen met pragtig gedekte tafels en heerlike gebak, terwyl die bekende sanger, Michael Lindt, die gaste met sy musiek en staaltjies vermaak het.
Die geleentheid was egter meer as net 'n verjaarsdagviering. Daar is ook teruggekyk op vier dekades se dienslewering, die mense wat deel van die sentrum se geskiedenis was en die belangrike rol wat Emmaüs steeds in die gemeenskap vervul.
Emmaüs bied terapeutiese stimulering aan volwassenes met intellektuele gestremdhede tussen die ouderdomme van 18 en 50.
Die sentrum het tans 48 inwoners wat in die residensiële fasiliteit woon, asook 50 dagbesoekers.
Die terapeutiese programme sluit onder meer houtwerk, handwerk, tuinwerk en ander vaardigheidsaktiwiteite in, wat daarop gemik is om inwoners en dagbesoekers te stimuleer en hul vaardighede te ontwikkel.
Besoek die sentrum by Memoriumstraat 6 in George, skakel 044 873 4196 of besoek www.emmausgeorge.co.za.
Gerda Rappard en Annemarie Tossel geniet die musiek van Bob Marley. Foto: Michelle Pienaar
Bestuursraadslid Doloris Wewers en die sentrumbestuurder, Elsabie Badenhorst. Foto: Michelle Pienaar
'n Tafel vol vriende: Shelyn Kleingeld, Jana Gerbek, Andri Swanepoel, Helga van Zyl, Bianca Schoeman, Telana Marx en Lizelle Robertson. Foto: Michelle Pienaar
Die verjaarsdagkoek, geskenk deur The Harvest Table. Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’