GEORGE NUUS - Op negejarige ouderdom moes die komediant en akteur Moses Williams reeds leer om sy eie pad deur die lewe te vind.
Vandag, 13 jaar nadat hy sy loopbaan as komediant begin het, ken die meeste mense hom as die man agter die gewilde karakter, Ouma Sarie.
In 2022 maak hy sy buiging as akteur in vyf films wat op kykNET uitgesaai is.
Na sy pa se selfdood moes Williams op 'n jong ouderdom sonder die leiding klaarkom wat 'n kind nodig het. "Soos enige laaitie wat leiding nodig het in die lewe, moes ek maar self my eie way uitfigure, self uitwerk hoe om die lewe se uitdagings te hanteer," sê hy.
Hy glo dié ervaring het hom gehelp om betekenisvolle verhoudings te bou en elke dag 'n beter mens te probeer wees.
Sy droom om mense te vermaak het tydens sy skooljare by Hoërskool George begin vorm aanneem. In 'n koshuiskamer het hy video's en artikels oor kunstenaars soos Emo Adams, Marc Lottering, Trevor Noah en Kevin Hart verslind.
Hoewel 'n loopbaan in vermaaklikheid destyds onbereikbaar gelyk het, het hy in sy eie talent geglo. "Ek het geweet ek het ook daai talent om mense te kan vermaak. Ongeag my omstandighede en waar ek vandaan kom, het ek geglo dat as ek nie gaan probeer nie, ek nooit gaan weet nie."
Dertien jaar later erken Williams, wat saam met sy gesin in Pacaltsdorp woon, dat daar talle oomblikke was toe hy wou tou opgooi.
"Daar was seker al 'n 100 keer wat ek wou opgee - waar ek nie waardig genoeg gevoel het nie en waar die support nie genoeg was nie. Maar ek moes myself elke keer herinner hoekom ek in die eerste plek begin het."
Vandag is hy bly dat hy aangehou het. Die Ouma Sarie-karakter, geïnspireer deur sy ouma se reguitpraterige geaardheid, het sy handelsmerk versterk en uiteindelik tot 'n TV-reeks gelei wat 'n groot kykersgehoor gelok het.
Volgens Williams is die reeks steeds drie jaar later die komediereeks met die hoogste kykertal in Suid-Afrika.
Agter sy sukses staan sy lojale ondersteuners, familie en lewensmaat. Hy sê sy verkies om eerder agter die skerms te bly terwyl hy in die kollig staan. "Sy is die liefde van my lewe. Sy het my twee pragtige seuns gegee, wat my 'n groter rede gee om suksesvol te wees en ander te motiveer en te inspireer.
"Nou pak Williams sy volgende groot projek aan, die Sarie Nation Music Festival, wat op 30 en 31 Oktober by Outeniquapark aangebied word. Na die Ouma Sarie-TV-reeks beskou hy die fees as die tweede grootste projek van sy loopbaan.
Met kunstenaars soos DJ Jazzy D en die Kaapse sangeres Salome op vanjaar se program, wil hy vir George en die breër Tuinroete 'n gesinsvriendelike musiekervaring bied met kunstenaars wat nie gereeld hier optree nie.
Williams as Ouma Sarie in die pienk gown, saam met die Kaapse sangeres, Salome. Foto: Verskaf
Williams glo die fees kan mettertyd een van die Wes-Kaap se groot jaarlikse gebeurtenisse word.
"Ek het 'n addiction aan history maak," sê hy met 'n lag.
Vir die laaitie uit die stofpaaie van Graaff-Reinet wat in 'n koshuiskamer in George oor 'n loopbaan in vermaaklikheid gedroom het, is daar nog heelwat geskiedenis wat hy wil maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’