DANABAAI NUUS - “Ek weet ek was haar alles. Sy was my alles.”
Só sê Robert Peschel jr. (25), seun van Daréne Langenhoven (50), ’n Danabaai-vrou wat op Maandag 12 Oktober tragies en onverwags by haar ouers se huis in Gouritsmond, sowat 48 km van Mosselbaai af, verstik het.
Peschel beskryf sy ma as ’n vrygewige mens wat altyd vir ander uit haar pad gegaan het. “Dit het nie saak gemaak wie dit was of waar hulle was nie,” sê hy.
Langenhoven was ’n bekende sakevrou in die Mosselbaai-omgewing.
Haar werk het behels dat sy boeke en skryfbehoeftes aan skole verskaf het, meestal in agtergeblewe gebiede.
Peschel sê hy sal altyd aan haar dink wanneer hy klavier speel.
Hy vertel dat sy daarvan gehou het om te luister wanneer hy ’n liedjie op die klavier speel, en hoewel haar versoeke soms irriterend was, het hy altyd daaraan gehoor gegee.
Volgens Robert sr., Langenhoven se voormalige eggenoot, was sy vir hul seun die beste ma ooit.
Hy sê Langenhoven was saam met haar ma, Magda, in die huis toe die voorval plaasgevind het. Hy sê alles het skielik gebeur.
“Sy het gesê sy was honger. Daar was kos van die vorige aand, ’n steak-en-aartappelgereg wat sy in die mikrogolfoond warm gemaak het. Ek weet nie hoeveel sy daarvan geëet het nie, maar toe verstik sy en kry nie asem nie.”
Daréne Langenhoven. Fotobron: Facebook-blad/Daréne Langenhoven
Hy sê Magda het probeer om haar te help, maar kon niks uitgerig kry nie, en het uitgehardloop om hulp by haar bure te gaan vra.
Een buurman het die Heimlich-maneuver toegepas, en twee boukontrakteurs wat verder aan in die straat gewerk het, het ook probeer om haar te red, maar tevergeefs.
Robert sr. sê sy eksvrou is in haar ma se arms oorlede.
Lt.kol. Malcolm Pojie, ’n Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die Albertinia-polisie is ontbied en het Langenhoven in die huis se voortuin aangetref.
’n Nadoodse ondersoek op Woensdag 14 Oktober het bevestig dat Langenhoven se dood deur ’n lugwegobstruksie veroorsaak is, as gevolg van ’n stuk vleis.
Sy sal môre, 17 Oktober, by die Ewige Lig-kerk in Voorbaai, Mosselbaai, ter ruste gelê word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’