GEORGE NEWS - Hibernia Primêr se jong programmeerders het Saterdag 17 Oktober drie van die sewe trofeë by die Inckubeko Coding and Robotics Environmental Competition 2026 ingepalm, en die skool se Code Crushers-span is as die algehele wenners aangewys.
Die kompetisie, met ekosisteme as tema, het ten doel gehad om jongmense aan te moedig om innoverende oplossings vir omgewingsuitdagings in Suid-Afrika te ontwikkel.
Laerskool- en hoërskoolspanne het teen mekaar meegeding, wat Hibernia se prestasie besonder noemenswaardig maak.
Hibernia het twee spanne ingeskryf, die Code Crushers en die Code Masters, wat uit onderskeidelik nege en agt leerders van gr. 5 tot 7 bestaan het.
Die deelnemers is beoordeel op hul aanbieding van 'n sake-idee, innovasie en die ontwerp en akkuraatheid van hul robotte. Die spanne moes ook 'n unieke 'Gogo'-ontwerp ontwikkel wat tydens die robotuitdaging gebruik is.
Hibernia Primêr se Code Crushers- en Code Masters-spanne. Foto: Verskaf
Die Code Crushers het die trofee vir beste robotspel en -ontwerp gewen en is ook as die algehele wenners aangewys. Die Code Masters het die derde plek algeheel behaal.
As deel van hul eerste prys het die Code Crushers 'n volledig geborgde reis na die Tsitsikamma Nasionale Park gewen, asook 'n kampeerervaring in die Wildernis Nasionale Park op 21 November. Die pryse word deur SANParke moontlik gemaak.
Die skool het sy trots uitgespreek oor die leerders se harde werk en toewyding en die ouers bedank vir hul ondersteuning en samewerking.
Hibernia se wenners
Code Crushers (9 leerders)
• Gr. 6: Kelsey Plaatjies, Kay Lee Plaatjies en Daniel van Wyk.
• Gr. 7: Mi Shayde Pedro, Michail Arries, A Jay King, Yakeesh Markgraf, Almonique Fernol en Josh Witbooi.
Code Masters (8 leerders)
• Gr. 5: Ayakha Ntengento, Miska Scott, Kylojordan Saayman, Chloe Messieur en Ronaldo Booysen.
• Gr. 6: Charmidah Lucas, Weldine July en Charne Frans.