GEORGE NUUS - Die 10-jarige Misha Meyer van Laerskool George-Suid het haar naam op die internasionale sportverhoog gevestig deur drie individuele wêreldtitels en altesaam agt medaljes by die 2026 UIPM se tweekamp-, driekamp- en laserwedloopwêreldkampioenskappe in Funchal, Madeira, Portugal, te wen.
Misha, wat Suid-Afrika in die meisies se o. 11-afdeling verteenwoordig, het tydens die kampioenskappe, wat van 26 Oktober tot 1 November plaasvind, sewe goue en een silwer medalje ingepalm.
Die byeenkoms, wat deur die Internasionale Moderne Vyfkampunie (UIPM) aangebied word, lok ongeveer 1 000 atlete uit 33 lande, en die jong deelnemers kompeteer teen van die wêreld se beste atlete in hul onderskeie ouderdomsgroepe.
Drie individuele wêreldtitels
Misha het haar eerste individuele wêreldtitel in die tweekamp verdien en ook as lid van die Suid-Afrikaanse o. 11-span goud gewen. Sy het boonop ’n silwer medalje in die gemengde aflos bygevoeg.
In die driekamp het sy nog drie goue medaljes ingepalm, naamlik as individuele wêreldkampioen, as lid van die Suid-Afrikaanse o. 11-span en in die gemengde aflos.
Misha het haar indrukwekkende medalje-oes met nog twee goue medaljes in die laserwedloop uitgebrei, waar sy beide die individuele wêreldtitel en spangoud verower het.
Hiermee het dié jong George-atleet drie individuele wêreldtitels in tweekamp,driekamp en die laserwedloop op haar kerfstok.
Met haar medaljes: Misha Meyer (10) van Laerskool George-Suid met haar sewe goue en een silwermedalje wat sy by die 2026 UIPM-wêreldkampioenskappe in Portugal verower het. Foto: Verskaf
Dié prestasie is besonder merkwaardig in die lig van die hoë vlak van internasionale mededinging. Atlete uit verskeie Europese lande moet deur streng kwalifiserende kampioenskappe en uitdunrondes vorder om aan die wêreldkampioenskappe deel te neem.
Misha ding ook mee teen jong atlete uit lande waar moderne vyfkamp reeds op ’n gespesialiseerde vlak ontwikkel word, onder meer deur toegewyde prestasieprogramme.
Uitstekende prestasies op tuisbodem
Misha se internasionale sukses volg op ’n besonder sterk seisoen in Suid-Afrika.
By die Suid-Afrikaanse kampioenskappe het sy op 2 Mei goud in moderne vyfkamp in Kaapstad gewen.
In Julie het sy nog twee nasionale titels ingepalm deur goud in die tweekamp en driekamp te wen, terwyl sy silwer in die laserwedloop verower het.
Op 3 Oktober het sy ook die individuele meisies se o. 11-titel in laserwedloop by die Afrika-kampioenskappe in Kaapstad gewen.
Haar medalje-oes vir 2026 sluit dus drie individuele wêreldtitels, sewe goue en een silwer medalje by die wêreldkampioenskappe, ’n Afrika-kampioenskapstitel, asook drie goue en een silwer medalje by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in.
Afrigters dra by tot sukses
Misha se sukses word deur ’n toegewyde span afrigters ondersteun. Haar hardloopafrigters is Marie en Jurgie Zwiegelaar van die Cheetahs-hardloopoefengroep, terwyl DK Stadler van Waterbenders haar swemafrigter is.
Johan Haasbroek, ’n spesialisafrigter in moderne vyfkamp, het haar reeds weke voor die wêreldkampioenskappe intensief voorberei. Hy het haar ook voor elke wedloop deeglik gelei en spesifieke leiding gegee oor haar strategie en wat sy tydens die onderskeie fases van die kompetisie moes doen.
Misha skryf haar sukses ook aan haar geloof toe. “My grootste hulp en krag was van Jesus. Ek sou dit nie sonder Hom kon doen nie,” sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’