VERMAAK NUUS - Die 19-jarige Ané Prins van George gaan van 1 tot 5 Desember vir die eerste keer aan die Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) deelneem, maar haar uiteindelike droom strek verder as 'n loopbaan as musikant.
Sy wil graag eendag klassieke musiek na haar tuisdorp terugbring en jong talent help ontwikkel.
Prins, 'n eerstejaarsmusiekstudent aan die Universiteit Stellenbosch, sê haar liefde vir musiek het haar gemotiveer om in te skryf. Sy beskou die kompetisie as 'n geleentheid om haar vaardighede te verbeter, haarself uit te daag en ander musikante te ontmoet.
Sy het haar Cambridge-A-vlakke in 2024 gedoen. Terwyl sy nog 'n leerder was, het sy die tjelloafdeling van die Carpe Musicam!-orkes aangevoer, landswyd saam met Hoërskool Outeniqua se ensemble getoer en aan musiekkompetisies deelgeneem.
Prins sê die musikale gene kom van haar ma se kant van die familie. Haar grootgrootouers aan moederskant was kerkmusikante. Haar ma is as 'n sangeres en pianis by kerkmusiek betrokke.
Prins het op 'n jong ouderdom leer klavier speel. Op die ouderdom van ses het sy formele lesse by Surika Louw begin, en op 11 met tjellolesse by Jessica Louw. Sy was vir 'n paar jaar deel van die Carpe Musicam!-orkes. Babette Roosenschoon is tans haar tjello-onderwyser.
Hoewel Prins voorheen ook saksofoon en kitaar probeer speel het, het die tjello haar gunstelinginstrument geword, en sy spits haar van 16-jarige ouderdom daarop toe.
Prins oefen daagliks tussen vier en ses ure, afhangende van haar program. Johann Sebastian Bach en Johannes Brahms is van haar gunstelingkomponiste, hoewel sy ook graag na Gustav Mahler, Antonín Dvorák en Camille Saint-Saëns luister.
Benewens musiek geniet sy die natuur, skryfwerk, poësie en fotografie. Sy het ook skubaduikkursusse tot op gevorderde opewatervlak voltooi.
Sy wil graag ná haar studies ervaring oorsee opdoen deur in orkeste en kamermusiekgroepe te speel, maar beoog om uiteindelik na Suid-Afrika terug te keer.
"Die uiteindelike droom sal wees om klassieke musiek na my tuisdorp, George, terug te bring. Daar is soveel jong talent, maar nie genoeg geleenthede om dit te ontwikkel nie. Ek sal graag eendag 'n musiekskool daar wil open," sê sy.
Prins beskryf haarself as passievol. Haar lewensleuse: "Die reis vorm die bestemming."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’