GEORGE NUUS - Toe Etienne Myburgh 21 jaar gelede as 'n drywer by Group Editors aangesluit het, het hy nie geweet wat op hom wag nie.
Myburgh, wat verlede Vrydag, 23 Oktober, vir die laaste keer by die maatskappy ingeklok het, onthou sy eerste dag by die kantore in Ringweg baie goed.
"Ek het in Maart 2005 vir diens aangemeld, min wetende wat op my wag. Toe ek op my eerste dag sommer al moes leer dat deurnag aanhou deel van die werk is, was ek nogal onkant gevang," vertel hy.
Hy moes daardie dag wag dat die drukkers die aand baie laat klaarmaak voordat hy sy eerste afleweringsroete aangedurf het om stapels vars gedrukte Suid-Kaap Forum-kopieë na Riversdal te neem.
"Mosselbaai en Riversdal was my eerste roetes wat ek moes leer ken," onthou hy. Hy was darem nie alleen nie. 'n Ervare kollega, Dawid Burger, het hom vir die eerste week onder sy vlerk geneem en gehelp om die werk onder die knie te kry.
Myburgh het later ook die Oudtshoorn-roete gery en op 'n stadium in Knysna afgelewer.
"In die begin wou ek myself bewys as 'n goeie werknemer en was ek oorywerig om soveel moontlik te doen, maar het gou besef as jy 'n veilige bestuurder wil wees, jy nie moeg agter die stuurwiel kan inklim nie."
Die ongewone ure en baie kilometers was veeleisend, maar hy het aangepas. "Dit het gou nie vir my saak gemaak nie, want almal het saam hard gewerk, en ons was soos een groot familie."
In die laaste paar jaar van sy loopbaan het hy nie meer self agter die stuur ingeklim nie, maar net saamgery en die administrasie van die koerantverkope hanteer. Hy was sedert 2012 ook verantwoordelik om die koerantargief by te hou.
Myburgh sê hy gaan vir altyd goeie herinneringe hê aan die kliënte by wie se winkels hy aflewerings gedoen het.
"Ek het hulle weekliks gesien, so ek het geheg geraak aan hulle. Dis'n klomp wonderlike mense. Ek het gereeld 'n koeldrank gekry, en daar was altyd iemand wat gereed was met 'n geselsie."
Etienne Myburgh en Janine de Jager by in die argief. Foto: Alida de Beer
Hy gaan dit ook mis om deel te wees van die drukte van die spertye. Sy weeklikse roetine het hom elke Donderdag en Vrydag na 85 plekke in George en omgewing geneem. "Dit was 'n uitdaging om die koerante betyds op die verskillende plekke te kry, maar ek het dit geniet," sê hy.
Janine de Jager, Group Editors se besprekings- en verspreidingsbestuurder onder wie Myburgh gewerk het, sê hy was een van die wonderlikste mense wat ooit oor haar pad gekom het. "Wat jy sien is wat jy kry. Hy is altyd opreg, eerlik en het 'n hart van goud.
"Niks was ooit vir hom te veel moeite nie, en hy het altyd meer as sy deel gedoen, sonder om iets terug te verwag. Hy is werklik 'n besonderse mens, iemand wie se opregtheid en goedhartigheid 'n mens nie sommer sal vergeet nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’