GEORGE NUUS - Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het ’n voorval bevestig waarin ’n leerder van Hoërskool Pacaltsdorp ’n medeleerder in een van die skool se koshuiskamers aangerand het.
’n Video van die aanranding is intussen wyd op sosiale media versprei.
Volgens Millicent Merton, woordvoerder van die WKOD, het die voorval Sondagaand, 6 September, plaasgevind.
“Die skool bied die nodige ondersteuning terwyl die aangeleentheid hanteer word. Dissiplinêre prosesse word gevolg in ooreenstemming met die skool se gedragskode,” het sy gesê.
Dit is in hierdie stadium nog onduidelik wat tot die voorval gelei het.
Ingeligte bronne het intussen aan George Herald gesê nog ’n bakleiery het vroeg Maandagoggend by die koshuis plaasgevind waarin dieselfde leerders glo betrokke was.
“Een leerder is daardie oggend per ambulans na die hospitaal geneem en later ontslaan. Albei leerders is intussen in die sorg van hul ouers geplaas,” het een van die bronne gesê.
Intussen beplan ontstoke inwoners ’n vreedsame optog buite die skool vanoggend, Vrydag 11 September om 10:00.
Meer inligting volg soos dit bekend word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’