GEORGE NUUS - Die familie van Marushall (Roeka) Gesels (27) van die Oos-Kaap, wat Maandag 14 September verdwyn het, is steeds desperaat op soek na haar nadat sy laas in die rigting van George gesien is.
Haar ma, Katie Mtimkulu, het aan George Herald bevestig dat daar nog geen teken van haar dogter is nie.
Volgens inligting wat deur die familie versprei word, het Gesels Clarkson verlaat en in die rigting van George gereis.
“Ons het gedink sy gaan in Plettenbergbaai opeindig, want dit is waar my suster, Julia - haar tannie - woon. Sy het nog nie daar uitgekom nie,” het Mtimkulu gesê.
Volgens Mtimkulu wou haar dogter haar eie dogtertjie saamneem toe sy vertrek, maar sy het dit verhoed.
“Sy het haar sakke gegryp en in ’n wit kar ingespring. Sy is weg in die rigting van George. Ons het gedink sy gaan by haar tannie opeindig, maar sy het nooit daar opgeëindig nie.”
Die familie is bekommerd oor Gesels se veiligheid en welstand.
Volgens die vermistepersoon-plakkaat het sy met haar verdwyning bruin skoene, ’n ligte denimblou jeans en ’n bruin-en-mosterdkleurige trui aangehad.
Enigiemand wat Gesels gesien het of inligting het wat haar familie kan help om haar op te spoor, kan Katie Mtimkulu by 068 805 4615 of Julia Msizi by 065 294 8187 kontak.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’