Update
GEORGE NUUS - Die oudste broer van die Kent-trio van Mosselbaai is Vrydagmiddag, 6 April, borgtog van R500 in die George-landdroshof toegestaan.
Ivan Kent (30), sy pa, Lionel (55), en jonger broer Divan (27), word daarvan aangekla dat hulle op 30 Januarie 'n sakeman van Oudtshoorn, Jannie Venter (45), by sy ingenieursfirma, Du Rand Engineering, in die George-nywerheidsgebied aangerand het. Ivan het by Venter gewerk.
Lionel en Divan is reeds in Februarie op borgtog vrygelaat.
Ivan, met geen vorige veroordelings, het self agter die getuiebank ingeskuif om in sy borgtogaansoek te getuig. Hy was bereid om die meriete van die saak te bespreek en het aangedui dat hy onskuldig sal pleit op die aanklagte teen hom.
Aanklagte teen Ivan is onder andere poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, roof met verswarende omstandighede, motordiefstal en roekeloos en of nalatige bestuur.
Die borgtogaansoek
Tydens die borgtogaansoek het dit aan die lig gekom dat Ivan 'n depressielyer is en daagliks medikasie moet neem. Hy het aan die hof gesê hy besef dat wat hy gedoen het verkeerd was, maar hy was paniekbevange en nie homself daardie dag nie.
"My baas het my vir drie maande nie betaal nie. Ek kon nie my medikasie koop nie. Ek het daardie oggend my baas [Venter] oor my betaling gevra waarop hy geantwoord het dat daar 'n probleem gaan wees. Ons is saam mannekrag toe. Hulle kon my egter nie help nie omdat ek 'n sub-kontrakteur is," het hy gesê. Volgens Ivan het Venter daarna gesê hy moet 'sy goed vat en loop' waarna hy 'n saak by die hof vir kleineise gemaak het.
"Ek het my pa gebel om my te kom haal. Ons is terug na my werk toe om die hofbevel aan my baas te oorhandig."
Ivan het aan die hof gesê dat Venter hulle na sy kantoor genooi het waarna 'n stryery ontstaan het. "My broer en my baas het begin stry. Hy het my broer gegryp waarna my broer homself verdedig het. Toe ek weer sien was my baas op die vloer en was daar bloed. Ek het geskrik en nie geweet wat ek doen nie. Ek was diep geskok."
Die jaagtog
Ná die voorval het die verdagtes die toneel verlaat. Lionel met sy motor en sy seuns met twee van Venter se maatskappyvoertuie.
"Ons was op pad George-polisiestasie toe om 'n saak te maak toe my pa voorstel dat ons eerder Mosselbaai toe gaan."
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het lede van die polisie se misdaadvoorkomingseenheid in George die Isuzu, wat teen 'n hoë snelheid op die N2 gejaag het, gesien en versterkings ingeroep. 'n Wilde jaagtog het ontstaan toe die verdagte nie vir die polisie wou stop nie.
"Ná talle waarskuwingskote was die polisie genoop om op die verdagte se motorbande te skiet. Een van die bande is getref en hy moes noodgedwonge stop," het Pojie gesê.
Tydens Ivan se getuienis moes die hof egter hoor dat hy wou aftrek om te stop, maar dat dit weens padwerke nie moontlik was nie. "Dit was nie my intensie om die voertuig te steel nie, ek wou net by die polisiestasie uitkom. Ek het begin stress toe hulle op my skiet en wou wegkom."
Volgens hom het die jaagtog gestop toe hy agter die Mosselbaai-polisiestasie tot stilstand gekom het. "Ek het agterom die stasie gery, die bakkie gestop, uitgeklim en myself oorgegee."
Die staat het borgtog teengestaan en aangevoer dat Ivan 'n vlugrisiko is. Die hof het egter beslis dat hy hom van sy bewyslas kwytgeskeld het en dat daar buitengewone omstandighede is wat sy vrylating op borgtog regverdig. Die verdagtes verskyn almal weer op 3 Mei in die George-landdroshof.
Die Kents se regsverteenwoordiger, Winston Jansen, van Nico Smit-prokureurs wou nie kommentaar lewer nie aangesien die saak sub judice is.
Lees vorige artikels:
- Man steeds in aanhouding vir aanranding
- Borgtog vir pa en seuns na aanranding
- Pa en seuns in hof vir aanranding
- Opvolg: Pa en seuns in hof na aanranding
- Pa en seuns vas vir poging tot moord
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'