Update
GEORGE NUUS - Die drie verdagtes wat Dinsdag 30 Januarie ná 'n woeste bakleiery by 'n plaaslike besigheid in die George-nywerheidsgebied en daarna in 'n wilde jaagtog betrokke was, het vandag in die George-landdroshof verskyn.
Ivan Kent (30), sy broer Divan (27) en hul pa, Lionel (54), staar verskeie aanklagte, waaronder poging tot moord en motordiefstal, in die gesig.
Die saak is tot 8 Februarie vir hul borgtogaansoek uitgestel.
Die beskuldigdes het na bewering 'n geskil oor uitstaande geld met Iyan se voormalige werkgewer by dié se ingenieursfirma in Laingstraat gehad.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die drie mans omstreeks 10:00 die slagoffer se besigheid betree. 'n Rusie het ontstaan waarna hulle na bewering die slagoffer baie ernstig aangerand het.
Hy is bewusteloos en met ernstige beserings aan sy gesig en kop na die hospitaal geneem.
Iyan het ná die aanranding glo in die slagoffer se wit Isuzu-bakkie gespring en van die toneel, in die rigting na Mosselbaai, gejaag terwyl sy pa en broer glo met 'n Toyota-bakkie, wat ook aan die besigheid behoort, gevlug het.
Hulle is almal Dinsdag in hegtenis geneem en bly in aanhouding in George.
Lees 'n vorige artikel: Pa en seuns vas vir poging tot moord
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'