Video
GEORGE NUUS - Mikayla ‘ Kayla’ Kumm se spontane gille van vreugde toe sy haar droommotor - ’n Mustang - sien wag vir haar rit na Hoërskool Outeniqua se matriekafskeid, het ’n knop in haar ouma, Belinda Herselman, se keel gelaat.
“Dit was nog altyd haar droom om in ’n Mustang na die afskeid te gaan. Sy kon haar oë nie glo nie!” het Herselman gesê.
Herselman het haar kleindogter se reaksie op haar selfoon vasgevang, maar dit was toe sy later tuis weer na die video kyk dat die trane gekom het. Kayla het haar ma, Yolanda, op 11 Julie vanjaar ná ’n stryd teen kanker aan die dood afgestaan.
“Sy was deur so baie hierdie jaar en sy is so braaf. Kayla het so gelukkig en mooi gelyk, so spontaan. Dit was ’n baie emosionele oomblik,” het Herselman gesê.
Kayla het op Erfenisdag, 24 September, saam met Ruan Stopforth die matriekafskeid by Eden Place bygewoon. Vroeër die dag het hulle foto’s met ’n wit Audi in die Tuinroete Botaniese Tuin geneem.
Toe hulle ná die fotosessie uitstap, het die Mustang buite gewag.
Ruan se pa, Arno Stopforth, het die verrassing gereël en dit selfs vir Ruan geheim gehou.
Die Mustang behoort aan George Vlok, wat op die Facebook-video gereageer het: “Hierdie is presies hoekom ek my kar uitleen vir matriekafskeid. Ek is sooo bly julle het die kar geniet.”
Herselman het die video op Georgiete Staan Saam gedeel, waar die vreugdevolle oomblik talle mense geraak het.
“Die mense se kommentaar was so mooi. Daar was net mooi boodskappe - en so baie!” het Herselman gesê.
’n Pragtige paartjie met ’n pragtige kar. Foto's: Ferdie Müller Fotografie
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’