Update
GEORGE NUUS - 'n Woeste bakleiery by 'n plaaslike besigheid in die George-nywerheidsgebied is Dinsdagoggend gevolg met 'n wilde jaagtog en skote in Mosselbaai.
Dié jaagtog tussen die polisie en 'n 30-jarige man van George, het in Marshstraat in Mosselbaai geëindig toe die verdagte in hegtenis geneem is nadat die polisie op sy motorbande geskiet het.
Die man, sy broer en hul pa, het na bewering 'n geskil oor uitstaande geld met sy voormalige werkgewer (45) by dié se ingenieursfirma in Laingstraat gehad.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die drie mans omstreeks 10:00 die slagoffer se besigheid betree.
'n Rusie het ontstaan waarna hulle na bewering die slagoffer baie ernstig aangerand het.
Hy is bewusteloos en met ernstige beserings aan sy gesig en kop na die hospitaal geneem.
Die 30-jarige verdagte het ná die aanranding in die slagoffer se wit Isuzu-bakkie gespring en van die toneel, in die rigting na Mosselbaai, gejaag.
Sy pa en broer het glo met 'n Toyota-bakkie, wat ook aan die besigheid behoort, gevlug.
Hulle is later die aand in George in hegtenis geneem.
Terug in Mosselbaai
Lede van die polisie se misdaadvoor-komingseenheid in George het die Isuzu, wat teen 'n hoë snelheid op die N2 gejaag het, gesien en versterkings ingeroep.
Verskeie padblokkades is onderweg na en in Mosselbaai opgestel om die man aan te keer, maar hy kon daarin slaag om die polisie te ontduik.
Ná talle waarskuwingskote was die polisie genoop om op die verdagte se motorbande te skiet.
Een van die bande is getref en hy moes noodgedwonge stop.
Teen druktyd was die verdagte nog by Da Gamaskop-polisiestasie in aanhouding.
Mits die dossier nie na George oorgeplaas word nie, sal hy in alle waarskynlikheid vandag, Donderdag 1 Februarie, op aanklag van poging tot moord, roekelose en nalatige bestuur asook motordiefstal in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
Die ander twee verdagtes is in aanhouding in George.
Hulle word volgens die polisie ook aangekla van poging tot moord en motordiefstal.
Hulle sal voor die einde van die week in die George-landdroshof verskyn.
Lees die nuutste hier: Opvolg: Pa en seuns in hof na aanranding
Lees 'n vorige artikel: Man na wilde jaagtog aangekeer
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'