GEORGE NUUS - Die Bloemfonteinse man wat na bewering tientalle mense van oor Suid-Afrika, asook George, uit derduisende rand geswendel het, is 30 Junie op borgtog van R2 000 vrygelaat.
Marius Smit (26), wat later die maand weer in die hof in Bloemfontein moet verskyn, word in dié stadium op nege sake van bedrog aangekla.
Smit het na bewering sedert 2014 landwyd mense deur middel van Facebook ingedoen. Hy is Woensdag 3 Julie by 'n Absa-OTM in Bloemfontein in hegtenis geneem.
Die George Herald het in Januarie vanjaar oor hom geskryf ná hy 'n plaaslike vrou se Facebook-profiel na bewering gekloon het om sodoende 'n bakkie op 'n oneerlike wyse as te koop aan te bied.
Talle slagoffers uit George het na dié berig die koerant gekontak. Almal se stories het ooreengestem.
Speurder op soek na klaers
Die privaat speurder wat verantwoordelik is vir Smit se arrestasie, Leon Rossouw, versoek almal wat moontlik deur Smit ingedoen is, om hom te kontak.
"Dit is niks om iemand te arresteer nie, maar wel 'n uitdaging om 'n persoon skuldig te bevind. Al hoe ons dit kan doen is om genoegsame bewyse teen hom kry. Ons kon nie voor die arrestasie mense op Facebook vra om ons te kontak nie, want dit kon moontlik die uitkoms van die ondersoek belemmer as hy die plasing sou raaksien, daarom is ons nou besig om nog klaers te soek."
Rossouw het foto's van vals Facebook-profiele van moontlike slagoffers van die slenter, asook 'n foto van 'n ID van 'n Victer Luan Botha aan die George Herald gestuur.
Hy vra dat die mense op die foto's hom kontak.
Sien die foto's hieronder.
Mense wat deur Smit ingeloop is, word gevra om Rossouw by 079 240 3491 te skakel of 'n e-pos te stuur aan consultingdetectivesbloem@gmail.com.
Lees vorige artikels:
- Vermeende bakkie-bedrieër soek borgtog
- Opvolg: Facebook-flouser uitgevang
- Facebook-flouser vang sy baas
- Facebook-flouser fop voort
- Tweegesig op Facebook klook en kul
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'