GEORGE NUUS - Vir 'n vrou van George het die nuwe jaar met ietwat van 'n skok begin.
Maryke Fourie se Facebook-profiel is nie net gekloon nie, maar die gekloonde profiel is gebruik om ander mense om die bos te lei.
"Ek het op 1 Januarie 'n boodskap van 'n onbekende meisie van PE gekry wat my laat weet het dat mense op 'n Facebook-groep, Second hand Port Elizabeth teen my gewaarsku word. Ek was uit die veld geslaan. My profiel was gekloon en gebruik as deel van 'n verneukspul," sê Fourie.
Die swendelaar wat haar profiel gekloon het, het 'n VW Polo teen R15 000 op die Facebook-blad Second hand goods Port Elizabeth te koop aangebied.
"Die vrou wat die ander lede van die groep teen my gewaarsku het, was die vrou wat ingedoen is. Sy het nie besef my profiel was gekloon nie en wou net die gemeenskap teen Maryke van Wyk, die swendelaar, waarsku. Ons het dit albei besef toe ons met mekaar begin gesels," vertel Fourie.
Die advertensie
Yasmien Reddy van PE het die advertensie vir die voertuig op Facebook gesien. Dit was deur 'n Maryke van Wyk, met Fourie se profiel-en voorbladfoto's, geplaas.
Op die gekloonde profiel is 'n foto van Fourie, haar man KD en hul kinders vir die voorbladfoto gebruik en 'n gesigfoto van Fourie vir die profielfoto. Op dié profiel is haar van egter Van Wyk en nie Fourie nie.
Die advertensie vir die voertuig deur Maryke van Wyk geplaas.
In die plasing oor die Polo is gemeld dat dit 'n 'dringende verkoop' is en dat die voertuig daardie selfde dag nog moes gaan. Al die papierwerk was kwansuis ook in orde.
R3 000 later steeds geen voertuig
Reddy, wat in daardie stadium 'n voertuig vir haar dogter gesoek het, het gespring om dié oënskynlike winskopie te benut. Sy het dadelik die verkoper gekontak. Dié is, volgens die toep, Trucaller, slegs as Luan geregistreer en het ook nie aan Reddy sy van gegee nie.
"Ek het die verkoper geskakel. Ons het gereël dat ek 'n deposito van R3 000 deur eWallet aan hom oorbetaal en die res wanneer ons die kar ontvang. Ons het afgespreek om mekaar 15:00 by Green Acres-winkelsentrum te kry," het Reddy aan George Herald gesê.
Die waarskuwing wat Yasmien Reddy geplaas het op Second hand port elizabeth PE.
Daardie middag het Reddy en haar man vir byna drie ure vir Luan gewag om die voetuig af te lewer.
"Met ons aankoms by Green Acres het ek hom gebel. Hy het gesê hy is op pad, maar dat sy foon se battery pap is. Daarna het ons nooit weer iets van hom gehoor nie."
Ná die lang gewag het Reddy besluit om handdoek in te gooi en het sy sonder 'n motor, en R3 000 armer, die aftog geblaas.
George Herald het die nommer op die Facebook-plasing geskakel. Dit gaan direk oor na die antwoordmasjien. Die gekloonde (Maryke van Wyk) se Facebook-profiel is ook reeds verwyder.
Fourie sê sy weet nie presies hoe lank die plasing op Facebook was nie, maar dat dit kort na Kersfees moes wees, aangesien haar voorbladfoto eers op Kersdag geneem is.
"Ek het intussen my Facebook-verstellings versterk om te verhoed dat so iets weer gebeur. Ek stel voor almal leer hoe om hul verstellings so privaat as moontlik te maak."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'