Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die man wat na bewering sedert 2014 landwyd mense deur middel van Facebook ingedoen het, het Vrydag 12 Julie in 'n hof in Bloemfontein verskyn. Die saak is tot môre, 19 Julie, vir sy formele borgtogaansoek uitgestel.
Die verdagte, Marius Smit (27) oor wie die George Herald vroeër vanjaar berig het, is Woensdag 3 Julie by 'n Absa-OTM in Bloemfontein in hegtenis geneem.
Die George Herald het in Januarie vanjaar oor hom geskryf ná hy 'n plaaslike vrou se Facebook-profiel na bewering gekloon het om sodoende 'n bakkie op 'n oneerlike wyse as te koop aan te bied.
Talle slagoffers uit George het na dié berig die koerant gekontak. Almal se stories het ooreengestem.
Smit het destyds die skuilnaam, Luan, gebruik en is na bewering sedert 2014 besig om landwyd mense op Facebook uit miljoene rande te bedrieg deur Facebook-profiele te kloon en 'n Ford Bantam-bakkie teen R14 000 of R15 000 te koop aan te bied.
'n Speurder uit Bloemfontein, Leon Rossouw, het Smit op sy eie in Desember 2018 begin ondersoek. Sowat 'n maand gelede het Rossouw sy bewyse aan die Valke voorgelê en hulle het Smit met die selfoon wat hy vir die slenter gebruik het, sowel as 'n groot bedrag kontant, betrap. Hy bly in aanhouding in die Grootvlei-gevangenis.
Mense wat deur Smit ingeloop is, word gevra om Leon Rossouw by 079 240 3491 te skakel of 'n e-pos te stuur aan consultingdetectivesbloem@gmail.com.
Kyk 'n video hieronder.
Lees 'n vorige artikel: Opvolg: Facebook-flouser uitgevang
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'