GEORGE NUUS - Die Facebook-swendelaar waaroor die George Herald vroeër vanjaar berig het, is Woensdag 3 Julie by 'n bank in die Vrystaat in hegtenis geneem.
Die verdagte, Marius Smit (26), wat destyds die skuilnaam, Luan, gebruik het, is na bewering sedert 2014 besig om landwyd mense op Facebook uit miljoene rande te bedrieg deur Facebook-profiele te kloon en 'n Ford Bantam-bakkie teen R14 000 of R15 000 te koop aan te bied.
'n Speurder uit Bloemfontein, Leon Rossouw, het Smit op eie houtjie in Desember 2018 begin ondersoek ná 'n plasing op Facebook sy aandag getrek het.
"'n Vrou genaamd Susan Arnold het mense gewaarsku teen die verdagte wat 'n goedkoop voertuig adverteer en dan met die koper se deposito verdwyn. Arnold het genoem dat sy uitgevind het dat haar deposito in Bloemfontein onttrek is hoewel die adverteerder vir haar gesê het hy is in Laingsburg," sê Rossouw.
Die advertensies, wat min of meer altyd dieselfde was, het 'n Ford Bantam-bakkie te koop aangebied. Wanneer 'n voornemende koper aanbied om die bakkie kontant by hom te koop, dring Smit aan op 'n R3 000-deposito wat die koper dan deur eWallet vir hom moet inbetaal.
Marius Smit is op Woensdag 3 Julie by 'n Absa-OTM in Bloemfontein in hegtenis geneem.
Talle plaaslike lesers het ná die berig in die George Herald die koerant gekontak. Sommige van hulle is byna geflous, maar ander was nie so gelukkig nie. Almal se stories het ooreengestem.
Die verdagte se laaste slagoffer was 'n vrou van George. "Ek het Woensdagoggend 'n deposito van R3 000 betaal na ek met hom [Smit] gesels het. Ons het afgespreek om mekaar op Uniondale te ontmoet, want hy was glo met die bakkie op Willowmore en was so gaaf om my halfpad te ontmoet sodat ek na die voertuig kan kyk. Ek was nét oor die Outeniquapas toe 'n lid van die Valke my skakel en sê dit was 'n slenter," het sy aan die George Herald vertel.
Modus operandi
Smit is in 2011 deur dieselfde speurder ondersoek en vasgetrek. "Sy modus operandi het baie ooreengestem met dié wat hy destyds gebruik het. Hy is toe aan bedrog van R100 000 skuldig bevind ná hy mense op die destydse sosiale platform, Mxit, geflous het. Hy is toe 'n opgeskorte vonnis van twee jaar opgelê," sê Rossouw.
Volgens Rossouw het Smit sedert 2014 daagliks 'n goedkoop voertuig op verskillende Facebook-groepe geadverteer.
Sowat 'n maand gelede het Rossouw sy bewyse aan die Valke voorgelê. Smit is met die selfoon wat hy vir die slenter gebruik het, sowel as 'n groot bedrag kontant, betrap.
Hy het Vrydag 5 Julie in die hof in Bloemfontein verskyn waar hy vir bedrog aangekla is. Die saak is tot môre, 12 Julie, uitgestel. Hy bly in aanhouding in die Grootvlei-gevangenis.
Mense wat deur Smit ingeloop is word gevra om Leon Rossouw by 079 240 3491 te skakel of 'n e-pos te stuur aan consultingdetectivesbloem@gmail.com.
Lees 'n vorige berig: Facebook-flouser fop voort
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'