Update
GEORGE NUUS - Die man wat daarvan beskuldig word dat hy in Maart 2022 sy vriendin, Andresia Alaart (30), se dood veroorsaak het, het vandeesweek met sy getuienis in die George-streekhof begin.
Warren Appels (50) staan tereg op 'n aanklag van manslag. Die saak is Maandag 31 Augustus uitgestel tot Vrydag 18 September, wanneer Alaart se ma, Christa Alaart, na verwagting sal getuig.
Appels is op Saterdag 26 Maart 2022 op die toneel in Llamastraat, Delvillepark, in hegtenis geneem.
Alaart se liggaam is op 'n matras in die leefarea van Appels se ouerhuis gevind. 'n Nadoodse ondersoek het bevestig dat haar dood veroorsaak is deur houe met 'n stomp voorwerp teen haar kop.
Volgens Eric Ntabazalila van die Nasionale Vervolgingsgesag het die paartjie 'n geskiedenis van huishoudelike geweld gehad en het argumente gereeld ná alkoholgebruik ontstaan.
Volgens Appels se weergawe het hy en Alaart baklei en het hy haar tydens die voorval met 'n voorwerp teen haar kop geslaan. Hy beweer dat hy haar die volgende oggend dood aangetref het.
Appels het sy verklaring aan die hof voorgelees en onder meer gesê dat "Satan die skuldige is".
Volgens sy weergawe was Alaart kwaad oor 'n ander vrou, wat hy as 'n 'lady of the night' beskryf het. Hy het aan die hof gesê dit was nooit sy bedoeling om haar dood te maak nie.
Vorige artikels:
- Delvillepark-moord: Saak ná vier jaar byna afgehandel
- Delvillepark-moord: saak gaan in Junie voort
- Delvillepark-moordverhoor begin eersdaags
- Delvillepark-moord: Borgtog geweier
- Hoe beslis vandag oor borgtog in moordsaak
- Aansoek vir borgtog weer uitgestel
- Moordbeskuldige se borgtogaansoek weer uitgestel
- Borgtogaansoek vir moordverdagte môre
- Borgtogaansoek van Delvillepark-moordverdagte uitgestel na volgende week
- Moordverdagte môre in hof
- Kêrel verskyn in hof vir vriendin se moord
- Man (64) vas vir vriendin se moord
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’