Update
GEORGE NUUS - Die borgtogaansoek van Warren Appels (46), die man wat daarvan aangekla word dat hy sy vriendin, Andresia Alaart (30) in Maart vermoor het, het Dinsdag 26 April in die George-landdroshof voortgegaan ná dit die vorige dag begin het.
Appels se formele borgtogaansoek sou reeds op Vrydag 8 April plaasgevind het, maar dit is weens verskeie redes uitgestel.
Hy is Saterdag 26 Maart op die toneel in Llamastraat, Delvillepark, in hegtenis geneem ná die polisie omstreeks 07:00 ontbied is.
Die oorledene se liggaam is met veelvuldige beserings aan haar gesig en liggaam op 'n matras in die leefarea in Appels se ouerhuis gevind. Die nadoodse ondersoek het bevestig dat haar dood deur 'n hou met 'n stomp voorwerp teen haar kop veroorsaak is. Sy is vermoedelik verskeie kere geslaan. Daar is ook bloed in die gang en 'n tweede slaapkamer van die huis gevind.
Die ondersoekbeampte, a.o. Josh Rondganger, het borgtog teengestaan en gesê nie net vrees Appels se neef wat saam met hom in dieselfde huis bly, vir sy lewe weens vorige geweldadige voorvalle nie, maar dat Appels se lewe ook in gevaar kan wees indien hy vrygelaat word.
Daar is ook 'n gemeenskapspetisie teen borgtog vir hom.
Tydens Rondganger se getuienis het die hof gehoor dat Appels, sy neef, die oorledene en nog 'n vriend die aand van die voorval saam by hul huis gedrink en gekuier het.
Appels en die oorledene het glo begin stry. Ná hulle baklei het, het hulle glo rustig verder gekuier. Later is die kuiergas weg en almal het gaan slaap. Die volgende oggend kon hulle nie die oorledene wakker kry nie en die polisie is ontbied.
Hy het geen hangende sake teen hom nie, maar wel agt vorige veroordelings van dronkbestuur. In sy verklaring wat Maandag op rekord geplaas is, voer hy aan dat indien hy op borgtog vrygelaat sou word, hy niemand se lewe in gevaar sal stel nie, hy nie getuies sal intimideer of enige bewyse vernietig nie en dat hy ten alle tye sy borgtogvoorwaardes sal gehoorsaam.
Hy vra om op borgtog vrygelaat te word sodat hy kan werk om sy kind en sy bejaarde ma te versorg.
Die saak is uitgestel tot vandag, Donderdag 28 April vir landdros Thiloshnie Govendor om uitspraak te lewer.
Eric Mthyobile is vir die staat en Clayton Samson van Samson & Winston-prokureurs, verteenwoordig die beskuldigde.
Vorige artikels:
- Aansoek vir borgtog weer uitgestel
- Moordbeskuldige se borgtogaansoek weer uitgestel
- Borgtogaansoek vir moordverdagte môre
- Borgtogaansoek van Delvillepark-moordverdagte uitgestel na volgende week
- Moordverdagte môre in hof
- Kêrel verskyn in hof vir vriendin se moord
- Man (64) vas vir vriendin se moord
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'