Update
GEORGE NUUS - Warren Appels (46), wat verlede naweek vir die moord van sy vriendin en ma van twee kinders, Andresia Kristy Alaart (30) in hegtenis geneem is, het Maandag 28 Maart in die George-landdroshof verskyn.
Die saak is uitgestel tot môre, Vrydag 1 April vir 'n borgtogaansoek.
Die voorval het in Appels se ouerhuis in Llamastraat, Delvillepark plaasgevind.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die polisie na 07:00 Saterdagoggend deur die verdagte na die toneel ontbied.
Met hul aankoms is die oorledene se liggaam met veelvuldige beserings aan haar gesig en liggaam op 'n matras in die leefarea gevind. Sy is vermoedelik verskeie kere geslaan. Daar is ook bloed in die gang en tweede slaapkamer van die huis gevind.
Andresia Alaart se liggaam word uit die huis in Llamastraat verwyder.
Die presiese oorsaak van Alaart se dood sou vandeesweek deur 'n lykskouing bepaal word.
"Sy was my enigste dogter. Sy is groot gemaak in die vrese van God. Sy was baie respekvol teenoor almal wat in my huis gekom het en was baie geliefd onder die gemeenskap. Sy sou nie 'n vlieg seermaak nie. Sy was my sonskyn," het Alaart se ma, Christa, Dinsdagoggend gesê.
"Haar spore is opgedroog. Nooit weer sal ek haar stem na my hoor roep nie. Maar sy is nou veilig waar niemand haar meer kan seermaak nie."
Alaart laat haar ouers, Christa en Enrico, haar broers, Joshua en Clint, haar 13 maande oue baba, Hope en 15-jarige dogter Jade, agter.
'n Huisdiens word eerskomende Saterdag by haar ouerhuis in Missionstraat gehou en daarna begin die kerkdiens om 11:00 by die AGS kerk in Pacaltsdorp.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'