Update
GEORGE NUUS - Die man wat daarvan beskuldig is dat hy sy vriendin, Andresia Alaart (30), in Maart 2022 vermoor het, het verlede week in die George-streekhof op aanklag van strafbare manslag skuldig gepleit.
Warren Appels (50) verskyn weer op Woensdag 8 Julie wanneer vonnis-verrigtinge begin. Hy is op Saterdag 26 Maart 2022 op die toneel in Llamastraat, Delvillepark, in hegtenis geneem.
Die oorledene se liggaam is met veelvuldige beserings aan haar gesig en liggaam op 'n matras in die leefarea in Appels se ouerhuis gevind.
'n Nadoodse ondersoek het bevestig dat haar dood veroorsaak is deur houe met 'n stomp voorwerp teen haar kop.
Benewens bloed in die leefarea is daar ook bloedspatsels in die gang en 'n slaapkamer gevind.
Volgens Eric Ntabazalila van die Nasionale Vervolgingsgesag het die paartjie 'n geskiedenis van huishoudelike geweld gehad en het daar gereeld argumente ná alkoholgebruik ontstaan.
Dit is ook aan die hof gestel dat soortgelyke omstandighede die aand voor Alaart se dood voorgekom het.
Die staat het aangedui dat daar nog vir die verslag van die proefbeampte gewag word en dat daar tydens vonnisoplegging om 'n direkte termyn van gevangenisstraf gevra sal word.
Vorige artikels:
- Delvillepark-moord: saak gaan in Junie voort
- Delvillepark-moordverhoor begin eersdaags
- Delvillepark-moord: Borgtog geweier
- Hoe beslis vandag oor borgtog in moordsaak
- Aansoek vir borgtog weer uitgestel
- Moordbeskuldige se borgtogaansoek weer uitgestel
- Borgtogaansoek vir moordverdagte môre
- Borgtogaansoek van Delvillepark-moordverdagte uitgestel na volgende week
- Moordverdagte môre in hof
- Kêrel verskyn in hof vir vriendin se moord
- Man (64) vas vir vriendin se moord
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’