Update
GEORGE NUUSFLITS - Die pa en twee seuns wat op 30 Januarie klaarblyklik 'n sakeman van Oudtshoorn, Jannie Venter (45), by sy ingenieursfirma in die George-nywerheidsgebied aangerand en vir dood agtergelaat is, het vandag in die George-landdroshof verskyn.
Lionel Kent (55) en sy jongste seun, Divan (27) is elk borgtog van R500 toegestaan.
Hulle staar aanklagte van poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, in die gesig.
Ivan (30) bly in aanhouding.
Aanklagte teen hom is onder andere poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, roof met verswarende omstandighede, motordiefstal en roekeloos en of nalatige bestuur.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het die Kent-trio omstreeks 10:00 die betrokke oggend die slagoffer se besigheid betree.
Hulle het na bewering 'n geskil oor uitstaande geld met Venter gehad.
'n Rusie het ontstaan en hulle het Venter ernstig aangerand.
Ivan het ná die aanranding in die slagoffer se wit Isuzu-bakkie gespring en van die toneel in die rigting van Mosselbaai gejaag.
Sy pa en broer het met die maatskappy se Toyota-bakkie gevlug.
Al drie is kort daarna in hegtenis geneem.
Venter is bewusteloos en met ernstige beserings aan sy gesig en kop deur personeellede na die Mediclinic Geneva geneem.
Hy is intussen ontslaan en sterk goed by sy huis aan.
Winston Jansen van Nico Smit Prokureurs verskyn vir die drie beskuldigdes en Zukile Maqulo vir die staat.
Die saak dien voor landdros Phillip Mgwebile.
Lees vorige artikels:
- Pa en seuns in hof vir aanranding
- Opvolg: Pa en seuns in hof na aanranding
- Pa en seuns vas vir poging tot moord
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'