Update
GEORGE NUUS - 'n Jaar is reeds verby sedert die wrede moord op Rencia Jafta (37) van Parkdene. Jafta se familie het haar verlede jaar op Sondag 12 Julie as vermis aangemeld. Haar liggaam is die volgende dag gevind en kort daarna het die polisie haar kêrel, Grant Robertson (34), in verband met haar moord in hegtenis geneem.
Jafta, 'n oudleerder aan Hoërskool Parkdene, se familie sukkel steeds om haar dood te verwerk en die gemis is groot.
"Ouers moenie hul kind begrawe nie, veral nie onder sulke omstandighede nie. Sy was geliefd en ons verlang baie na haar. Sy was 'n goeie kind met mooi maniere en 'n wonderlike ma vir haar seun," het Benjamin Jafta, Rencia se pa, gesê.
Jafta se liggaam is in 'n opslaanhuis in Bisonsingel gevind. Sy het 'n kopwond gehad en die vermoede bestaan dat sy met 'n stomp voorwerp aangerand is.
Conville-polisie se stasiebevelvoerder, kol. AB Kriga, het destyds gesê Jafta se pa het haar as vermis aangemeld en dat haar liggaam die volgende dag onder 'n bed in Robertson se opslaanhuis deur lede van die gemeenskap gevind is. Sy was in komberse toegedraai.
Robertson se eerste hofverskyning was op 16 Julie 2019 in die George-landdroshof.
Hy is steeds in aanhouding. Sy volgende hofverskyning moet nog bevestig word.
Vorige artikels: