GEORGE NUUS - Die Wes-Kaapse polisie het ’n interne ondersoek ingestel nadat ’n video waarin ’n polisiebeampte na bewering onbetaamlike uitlatings by die Pacaltsdorp-polisiekantoor maak, op sosiale media versprei is.
Die video is tydens die verkiessing opgeneem.
Daarin kan gehoor word hoe die persoon wat die opname maak, die beampte vra wat sy dienste vir die dag behels. In die agtergrond kan gesien word hoe ’n kollega ook die beampte verfilm.
Die beampte sê sy pligte behels om wet en orde in Rosedale te handhaaf.
Hy verwys neerhalend na die mense daar deur hulle met diere te vergelyk en maak ’n verdere opmerking dat hulle na hul grotte teruggejaag moet word sodat die stemlokaal in orde kan wees.
Die video het reeds op verskeie sosialemediaplatforms die ronde gedoen.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, AO Chris Spies, sê die video is in die polisiekantoor se gemeenskapsdienssentrum opgeneem.
“Die SAPD-bestuur beskou die uitlatings in ’n baie ernstige lig en het ’n interne ondersoek na die optrede van die betrokke lid of lede ingestel.”
’n Senior polisiebeampte verbonde aan die Tuinroete-distrik is aangestel om die ondersoek te doen.
Spies sê die polisie handhaaf ’n beleid van geen verdraagsaamheid teenoor onprofessionele en onbetaamlike optrede deur sy lede nie. Hy het die publiek verseker dat toepaslike stappe sal volg indien wangedrag vasgestel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’