GEORGE NUUS - Die Parkdene-gemeenskap is in rou gedompel ná een van hul eie, Rencia Jafta (37), verlede naweek na bewering deur haar kêrel vermoor is.
Jafta se liggaam is Sondag in 'n opslaanhuis in Bisonsingel gevind. Sy het 'n kopwond gehad en die vermoede bestaan dat sy met 'n stomp voorwerp aangerand is.
Volgens Conville-polisie se stasiebevelvoerder, kol. AB Kriga, het Jafta se pa haar Saterdag 13 Julie as vermis aangemeld. "Haar liggaam is Sondagmiddag onder 'n bed deur lede van die gemeenskap wat die opslaanhut binnegedring het, gevind. Sy was in komberse toegedraai," sê Kriga.
Haar kêrel, Grant Robertson (33), in wie se huis Jafta se liggaam gevind is, is later die dag in verband met haar moord in hegtenis geneem.
Hy het Dinsdag 16 Julie op aanklag van moord in die George-landdroshof verskyn waar die saak tot volgende Dinsdag uitgestel is. Hy bly in aanhouding.
Sy was geliefd
Vir haar ouers is Jafta, 'n oudleerder aan Hoërskool Parkdene, se dood 'n geweldige skok.
"Ouers moenie hul kind begrawe nie, veral nie onder sulke omstandighede nie. Die hele gemeenskap is geskok. Sy was baie geliefd en ons gaan baie na haar verlang. Ons het nooit klagtes oor haar gekry nie. Almal het altyd net mooi goed oor haar gesê. Sy was 'n goeie kind met mooi maniere en 'n wonderlike ma vir haar seun," het Benjamin Jafta, Rencia se pa, aan die George Herald gesê.
Hy bedank die gemeenskap vir die ondersteuning tot dusver asook al die bemoedigende boodskappe en vertroosting.
Saam met Madiba, verjaar Jafta se seun, Qwinn, vandag en sy ma was van plan om vir hom 'n fiets te koop. "Sy [Rencia] het hom belowe dat sy vir hom 'n fiets sou koop vir sy 17de verjaarsdag en nou is sy nie hier nie. Ons mis haar," het haar pa gesê.
Voorlopige begrafnisreëlings
Op Saterdag 27 Julie word 'n huisdiens by haar ouers se huis in Snakestraat gehou waarna 'n gedenkdiens by Hoërskool Parkdene se skoolsaal om 11:00 sal volg.
Jafta laat haar ouers, Benjamin en Rina Jafta, haar broer, Bronwill, suster Celeste Jacobs en haar seun, Qwinn, na.
Lees hierdie artikel in Engels.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'