GEORGE NUUS – Die bekende komponis, orrelis en musiekverwerker prof. Chris Lamprecht (99), wat jare lank in Heroldsbaai naby George gewoon het, is Vrydagaand 6 November oorlede.
Lamprecht, wie se musiek oor dekades heen deel van die Afrikaanse volks- en kerkmusiekskat geword het, is nog in Maart verlede jaar tydens 'n spesiale geleentheid in die NG Moedergemeente op George deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, beskryf Lamprecht se afsterwe in 'n huldeblyk op die organisasie se Facebook-blad as 'n besondere verlies.
"Met sy heengaan neem ons afskeid van een van die vooraanstaande komponiste, musiekverwerkers en bewaarders van Afrikaanse volks- en kerkmusiek. Sy lewenswerk het oor byna 'n eeu deel van die Afrikaanse musiekerfenis geword."
Volgens Langner besef min mense hoeveel van die liedere wat vandag nog in kerke, skoolsale en gesinsverband gesing word, deur Lamprecht gekomponeer of verwerk is.
"Chris Lamprecht se musiek het ware volksbesit geword. Sy komposisies en verwerkings het nie net in die FAK-Sangbundel, kerkbanke en konsertsale 'n tuiste gevind nie, maar in die lewens van Afrikaanse mense regoor die wêreld."
Tot op hoë ouderdom aktief
Lamprecht het tot diep in sy negentigs musiek gekomponeer en 'n aktiewe belangstelling in die plaaslike musiekgemeenskap behou.
So onlangs as Mei vanjaar het hy 'n nuwe koorwerk, Liefde sonder einde, 'n toonsetting van Psalm 136, aan dr. André van Zyl en die Eden Camerata-kamerkoor op George oorhandig. Hy het die werk self op die klavier voorgespeel, waarna die koor dit saamgesing het. Dit was die tweede werk wat hy spesiaal vir dié koor geskryf het.
Tydens 'n koorkonsert op George in Junie 2025 is drie van sy werke uitgevoer, waaronder Môrelied, wat hy nog in 2023 gekomponeer het.
Annelie van Rooyen, bekende sangeres, groet en wens prof. Lamprecht geluk met sy toekenning van die FAK. By hulle staan sy vrou, Elza. Foto: Eugene Gunning
Besondere eerbetoon op George
Een van die hoogtepunte van sy latere lewe was die FAK se oorhandiging van 'n Prestigetoekenning vir sy lewensbydrae tot Afrikaanse musiek op 16 Maart 2025.
Die geleentheid in die NG Moedergemeente is deur talle musiekliefhebbers, familielede en vriende bygewoon. Sy vrou, Elza, en dogter Lize van Niekerk was onder die aanwesiges.
'n Gewyde musiekprogram met van Lamprecht se komposisies is aangebied. Aan die einde het die gemeente sy bekende Aandgesang gesing terwyl hy voor in die kerk gestaan het.
Langner onthou dié oomblik met besondere deernis. "Dit was vir my 'n onvergeetlike geleentheid. Aan die einde van die musiekprogram het die gemeente sy bekende Aandgesang gesing terwyl hy voor in die kerk gestaan het."
"Hier het 'n komponis aan die einde van 'n lang lewe na sy eie musiek geluister, uitgevoer deur die mense vir wie hy dit geskryf het."
'n Lewe gewy aan musiek
Lamprecht is op 1 Oktober 1927 in Bloemfontein gebore en het aan die Hoërskool Sentraal gematrikuleer.
Hy het in 1948 sy B.Mus.-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal en daarna verdere musiekopleiding deur Unisa en in Europa ontvang. In Duitsland het hy hom in kerkmusiek, komposisie, koorleiding en sang bekwaam.
Hy het later onder meer as direkteur van die NG Kerk se Kerkmusiekskool, senior orreldosent en hoof van die Universiteit van Pretoria se musiekdepartement gedien. Hy het in 1973 sy M.Mus.-graad verwerf en in 1987 afgetree. Vir 26 jaar was hy ook orrelis van die NG Kerk Universiteitsoord in Pretoria.
Sy bydrae tot die bewaring van Afrikaanse volksmusiek was omvangryk. Hy het ongeveer 800 volksmelodieë uit Suid-Afrika en Namibië opgeteken, waarvan 250 verwerk en deur die SAUK opgeneem is.
Altesaam 52 van sy volksliedverwerkings en twee oorspronklike komposisies is in die FAK-Sangbundel van 1979 opgeneem. Verskeie van sy verwerkings is ook in die 2012-uitgawe ingesluit.
Bekende gewyde werke uit sy pen sluit Die Aandgesang, Immanuel en Wie het ek buiten U.
Hy het verskeie eerbewyse ontvang, waaronder die FAK-Prestigetoekenning in 1989 en die Andrew Murray-FAK-toekenning in 2016 vir sy bydrae tot Christelike musiek.
Prof. Chris Lamprecht saam met dr. Danie Langner. Foto: FAK
Diep spore in George
Lamprecht was oor baie jare 'n bekende en geliefde figuur in die George-musiekgemeenskap.
In November 2017 het die Vriende van die Tolhuis hom tydens 'n spesiale erkenningsaand by die historiese tolhuis aan die voet van die Montagupas vereer. Hy het onder meer die verhaal agter sy Togliedjie vertel en saam met sy familie en die gehoor volksliedere gesing.
Sy musiek is gereeld deur plaaslike kore uitgevoer en hy was ook 'n ondersteuner van musiekgeleenthede op George.
Nalatenskap vir toekomstige geslagte
Volgens Langner het Lamprecht se seun, Charl, verlede jaar 'n waardevolle versameling van sy pa se oorspronklike bladmusiek, manuskripte, publikasies, foto's en ander gedenkwaardighede aan die FAK geskenk.
Die versameling word in die argief van die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument bewaar.
"Chris Lamprecht het aan 'n geslag behoort wat verstaan het dat kultuur nie vanself voortbestaan nie. Dit moet versamel, bestudeer, gedokumenteer, beoefen en aan volgende geslagte oorgedra word."
Langner sê Lamprecht het nie net musiek gekomponeer nie, maar gehelp om 'n belangrike deel van die Afrikaanse kultuurgeskiedenis vir toekomstige geslagte te bewaar.
"Namens die FAK betuig ons ons innige meegevoel met sy vrou, Elza, sy kinders en familie. Ons eer sy nagedagtenis met groot dankbaarheid vir sy lang lewe, sy geloof, sy nederigheid en sy uitsonderlike diens aan Afrikaanse musiek."
George Herald het uitgereik na Van Niekerk, maar sy reis tans op pad terug van Amerika na Suid-Afrika.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’