GEORGE NUUS - Alle tussenverkiesings is met 90 dae uitgestel. 'n Hofbevel van die verkiesingshof in Bloemfontein het verlede Donderdag gelas dat die uitbreek van die koronavirus geweldige druk op die Onafhanklike Verkiesingskomitee sal plaas om regverdige verkiesings in hierdie tyd van 'n pandemie te verseker.
Volgens die hofstuk moet tussen-verkiesings nie later as 120 dae na 19 Maart plaasvind nie.
George word ook hierdeur geraak. Drie tussenverkiesings in Parkdene (wyk 8), Rosedale (wyk 14) en Pacaltsdorp (wyk 27) was vir 13 Mei beplan. Dit is nou eers op die lange baan en sal in alle waarskynlikheid nie voor einde Junie plaasvind nie.
DA-streekvoorsitter, Jaco Londt, het by navraag gesê dit is die regte ding om die tussenverkiesings uit te stel, in die lig van die korona-pandemie. Dit beteken wel dat daar vir 'n wyle drie vakante posisies in die raad gaan wees.
"Die verantwoordelikheid rus nou op al die politieke partye om te verseker dat dienslewering in George plaasvind," het Londt gesê. "Die politieke partye moet hande vat en verseker dat die regte besluite vir George geneem word."
Londt het gesê hy glo daar is genoeg mense wat besef hierdie is 'n "besonderse situasie". "Ek glo van harte dat almal hulle kant sal bring."
Hy het bygevoeg dat dit belangrik is, in die lig van die forensiese verslae, dat die nodige aksies geneem sal word om die integriteit van die munisipaliteit in ere te herstel. 'n Tweede forensiese verslag oor beweerde misdrywe en korrupsie by George-munisipaliteit word binnekort verwag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'