Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die South African Water Warriors het op Saterdag 10 April nog 'n suksesvolle uitreik voltooi, hierdie keer na die droogtegeteisterde Ladismith- en Zoar-gebied in die Klein-Karoo.
Voorrade is onder ongeveer 150 boere en werkersgesinne uitgedeel. Twee konvooie het die goedere onderskeidelik vanaf George en Kaapstad vervoer met nog 'n voertuig van Pretoria wat by hulle aangesluit het.
Die skenkings het ingesluit 150 lusernbale, 15 ton mielies, 1 ton aartappels, 30 ton water, ongeveer R70 000 se kruideniersware, noodboksies vir die vroue van elke gesin en R15 000 se diesel. Vrywilligers het al die skenkings met motors en bakkies vervoer. Mans Vervoer van die Kaap het die 30 ton water vervoer.
Kyk 'n video hieronder:
Estelle van Rooyen wat onder die ontvangers was, het haar en haar man, Glen, se dankbaarheid só uitgedruk, "Woorde kan nie ons dankbaarheid beskryf nie. Kan u asseblief dankie sê aan die hele span Water Warriors en aan elke skenker klein en groot.
"Die omgee wat ek vandag ervaar het, sal my my hele lewe bybly! Dankie aan elke persoon wat sy tyd aan ons boere afgestaan het en dit met soveel deernis, respek, waardigheid en liefde gedoen het."
Van die voorrade in 'n vrywilliger se voertuig.
Natalya Nisbet het gesê: "Wat 'n oorvloed! Hoe sê 'n mens dankie? Die dames het 'n aparte pakkie ontvang vol geskenkies en toiletware. Die onsigbare, maar tasbare krag wat julle met julle saambring op hierdie uitreike se impak sal vir 'n baie, baie lang tyd nog ervaar word."
Pieter du Plessis, een van die Water Warriors wat in George woon, het almal bedank vir die ruim skenkings en samewerking om die uitreik moontlik te maak.
Mense het hul harte en beursies oopgemaak om te skenk.
Die Water Warriors gaan voort met hulle insamelings. Bel Du Plessis by 076 844 6435 as jy wil help of bydra.
Voorraad word gelaai om huis toe te neem.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'