Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - Die South African Water Warriors het 'n uitreik na Bitterfontein in die Karoo gehad waar boere steeds onder uiterste droogtetoestande gebuk gaan.
Voer vir diere en kruideniersware is in 'n konvooi soontoe geneem met 'n gelede trok vol lusernbale, nog een vol hooibale en ook 15 ton mielies in 50 kg-sakke. Dit kon afgelewer word danksy medeboere en die publiek se ruimhartige skenkings, sê Georgiet Pieter du Plessis, een van die Water Warriors se vrywilliger-organiseerders.
Du Plessis sê hulle probeer om by die boere uit te kom wat geen uitkoms meer het nie.
'n Boer van die Bitterfontein-area, Hugo Kotze, het gesê hulle het amper 250 skape verloor. "Elke bietjie van hierdie voer is diep in ons harte."
Terwyl die Warriors op Bitterfontein uitgereik het, is 25 000 liter water terselfdertyd in Prins Albert afgelaai.
Kyk 'n video hieronder:
Hulle beplan nog 'n moontlike uitreik op 13 Maart indien genoeg skenkings ontvang word. Mense kan ook kontant skenk, al is dit R10.
"Ons benodig brandstof, kruideniersware, water en veevoer en doen 'n beroep op mense om uit te reik na ons boeregemeenskap wat in ernstige nood verkeer. Dankie aan almal wat ons tot dusver so ongelooflik bygestaan en skenkings gemaak het om die uitreike moontlik te maak," sê Du Plessis.
As jy wil help, bel Du Plessis by 076 844 6435 of besoek die South African Water Warriors se Facebook-blad vir meer inligting.
Uitgehongerde skape drom saam om 'n baal voer.
Veevrektes is aan die orde van die dag in die droogtegeteisterde Karoo. Hier is in die Bitterfontein-gebied.
Hartverskeurende tonele soos hierdie maak dat die Water Warriors weer volstoom besig is om donasies vir hul volgende uitreik in te samel.'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'