SUID-KAAP NUUS - Die South African Water Warriors wil met 'n uitreik in die Ladismith-distrik op 10 April sowat 150 gesinne, plaasboere en werkers help wat gebuk gaan onder 'n voortslepende droogte.
Volgens Deon Smith, een van die Water Warriors-vrywilligers, was Ladismith die eerste boeregemeenskap wat die organisasie in 2018 met voer gehelp het.
Die lusernlande daar lê nou al vir ses jaar lank braak, sê 'n Water Warrior van George, Pieter du Plessis.
"Daardie boere het nie eens meer diesel om na hulle skaap te gaan kyk in die veld nie, hulle moet stap waar hulle wil wees. Die grond is hard en droog.
Ná reën gaan dit ten minste nog twee na drie goeie buie kos om die veld te help herstel. Dit is vir so lank al droog dat die bietjie gras in die veld tot in die wortel gevrek het."
Hy sê in langdurige droogtes soos tans ervaar word, is daar baie voorbeelde van mense wat met groot tekorte leef, soos een boervrou wat vir 'n maand moet uitkom met 20 liter vars water.
"En dan hoop en bid sy 'n weldoener of buurman kom betyds verby om vir haar 'n nuwe kan te bring. 'n Mens wonder hoe bly hierdie mense staande."
Dit is hoe die Grootrivier, wat deur 'n boer van Ladismith se plaas loop, nou lyk.
Skenkings
'n Bietjie kruideniersware, mielies en lusernbale is al vir Ladismith geskenk, maar met elke uitreik, wanneer dit verdeel word, kry die boere maar min. Du Plessis sê hulle wil graag 'n groot impak maak en die boere vir ten minste die volgende een tot drie maande probeer uithelp om 'n mate van verligting te bring.
"Enige donasie, kruideniersware, groente, voer vir skaap en bees, hondekos, diesel en vervoer is welkom."
Foodz George, te Memoriamstraat 8, dien as afsetpunt vir skenkings. Die winkel wil graag 'n 8-ton trok volmaak met kos en noodsaaklikhede.
Du Plessis vra mense om mekaar uit te daag om só skenkings te help aanmoedig. "Dié wat betrokke is by besighede, daag jou klantee, vriende en bure uit om met hulle bakkie, motor of trok by die konvooi aan te sluit met donasies wat hulle kan kry. Indien hulle nie kan saamry nie, sal ons weer by een van ons gereelde borge aanklop vir 'n vragmotor. Kom ons kyk hoeveel voertuie ons uit George kan volmaak."
Lieska Barnard van Foodz daag ander besighede uit om ook aan die inisiatief deel te neem.
Rig navrae in verband met die uitreik aan Lieska Barnard (072 012 6333) of Pieter du Plessis (076 844 6435).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'