GEORGE NUUS - 'n Geselligheid saam met vriende het Saterdagaand, 19 Augustus, in 'n nagmerrie ontaard toe die 16-jarige Adriaan Baartman met 'n skerp voorwerp doodgesteek is.
Volgens konst. Rachel Hendriks, George-polisie se kommunikasiebeampte, het 'n paar vriende op die plaas Hoogekraal, in die Wilderness-omgewing, gekuier toe die voorval plaasgevind het.
Die verdagte, Rynard Majolla (27), het na bewering later die aand by die partytjie aangesluit. "Hulle het glo langs mekaar gestaan toe Majolla, Baartman met 'n skerp voorwerp steek," het Hendriks aan die George Herald gesê.
Baartman het op die toneel beswyk. Majolla het van die toneel verdwyn. Volgens ooggetuies was daar geen argument tussen die verdagte en die slagoffer tydens die voorval nie.
Die polisie kon nie bevestig of hulle moontlik vóór die voorval woorde gehad het nie.
Majolla is die volgende dag (Sondag 20 Augustus) in hegtenis geneem en het op Dinsdag 22 Augustus in die George-landdroshof op aanklag van moord verskyn. Hy het vroeër die week weer verskyn vir sy borgtogaansoek. Die uitslag was nie bekend teen druktyd nie.
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'