Update
GEORGE NUUS - Verteenwoordigers van die groep ongelukkige inwoners van Rosedale-plakkerskamp (PK), George-munisipaliteit en die portefeuljekomiteelid vir behuising, Bazil Petrus, het na al die drama in Rosedale die laaste twee weke, uiteindelik 'n vrugtevolle vergadering gehad.
Volgens die direkteur van beplanning, ontwikkeling, menslike nedersettings en strategiese dienste, Lauren Waring, het albei partye die vergadering met groter duidelikheid oor kwessies verlaat.
Dié vergadering volg op dieselfde dag, verlede Vrydag, 17 Junie, nadat inwoners van Rosedale-plakkerskamp opnuut met protesaksie in die hoofstraat begin het. Motorbande en mobiele toilette is verlede Vrydagoggend in die straat aan die brand gesteek.
Volgens 'n inwoner en gemeenskapsleier van die gebied, John Hendricks, voel die mense hulle word eenkant toe geskuif met die ontwikkeling van die nuwe behuisingsprojek in Reigerpark.
'n Opname van hul behoeftes is vroeër van stapel gestuur, maar is nog nie voltooi nie. Die munisipaliteit het met 'n vorige navraag bevestig dat hulle graag wil help, maar dat almal nie vir 'n behuisingsgeleentheid kwalifiseer nie.
Gesprekke sou plaasvind om inwoners te ondersteun en in te lig, maar protesaksie het 'n stok in die wiele gesteek.
Deur-tot-deur
Met die onlangse vergadering is daar besluit dat die deur-tot-deur opname van al die huishoudings in die informele woongebied sal voortgaan, het Waring gesê.
"Die departement van menslike nedersettings was besig met hierdie proses, maar moes amptenare verwyder ná gewelddadige optrede wat daartoe gelei het dat 'n amptenaar beseer is, en bates verbrand en beskadig is. Verteenwoordigers van die gemeenskap sal help met die opnameproses.
"’n Verdere vergadering sal met die verteenwoordigers plaasvind wanneer die opname voltooi is om die proses vorentoe te neem."
Volgens Hendricks lyk dinge darem meer rooskleurig op die oomblik: "Die gemeenskap voel as die munisipaliteit hulle deel doen en uitreik na ons, dan sien ons kans om hande te vat met die pad vorentoe. Die munisipaliteit het Dinsdag (21 Junie) weer begin met hul opname. Ons het weer hoop."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'