GEORGE NUUS - Noudat die weer in George so nou en dan na lente begin lyk, het die tyd aangebreek vir die Lentereeks-etensuurkonserte van 2026.
Die eerste konsert van die seisoen is om 13:10 op Woensdag 7 Oktober in die NG Moederkerk - pragtige orrelmusiek deur die gevierde orrelis Gerrit Jordaan, en koorklanke deur die NG Kerk Hartenbos se koor onder leiding van Marianne Rust.
Die konsert duur ongeveer 50 minute. Toegang is gratis en luisteraars kan hul waardering toon met donasies by die deure.
Die daaropvolgende vier konserte sluit in: leerders van Carpe Diem Skool wat bekend is vir hul vaardigheid op die marimba, tenoor Johan Potgieter met begeleiding deur Henta Essel, Rian Smit en die Hoërskool Outeniqua se klassieke ensemble, en ander.
Musiekliefhebbers wat graag elke week aan die konsert herinner wil word en wie se name nog nie op die WhatsApp-lys vir etensuurkonserte is nie, kan Elisabeth by 083 627 9105 skakel.
Die doel van die konsertreekse is om meer plaaslike kunstenaars die kans te gee om te kan optree, om die publiek die geleentheid te gee om goeie musiek in die klassieke styl te kan geniet sonder om oor kaartjiepryse bekommerd te wees, en ook om mense die kans te gee om in die dag na 'n konsert te gaan wanneer dit vir sommige 'n geriefliker tyd is as in die aand.
Kom geniet gerus hierdie besonderse konsertreeks!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’