GEORGE NUUS - Protesaksie in Rosedale het sedert gisteraand weer vlamgevat. Volgens terugvoer van ‘n gemeenskapsleier en inwoner van die plakkerskamp, John Hendricks, het inwoners ook vroeër vanoggend toilette in die hoofstraat gebrand. Motorbande en toilette is ook gisteraand omstreeks 20:30 in die hoofstraat, en voor die beskadigde gemeenskapsaal gebrand. “Die toilette was wel in ongebruik en reeds stukkend,” het Hendricks gesê.
Die polisie se eenheid vir openbare orde was gisteraand op die toneel. Traangas en rubberkoeëls is blykbaar gebruik om die skare onder beheer te hou.
Tans is lede van die dorp se polisie en munisipale wetstoepassing op die toneel. Van die mense loop onrustig in die area rond.
“Hulle wag vir die MM [Michelle Gratz], die hoof van behuising en die portefeuljeraadslid vir behuising,” het Hendricks gesê. “As hulle nie kom nie, gaan hulle seker later maar weer begin om goed te brand. Daar lê nog ‘n klomp tyres aan die een kant.”
Die protesaksie blyk steeds verband te hou met hul woede teenoor George-munisipaliteit en die Reigerpark-behuisingsontwikkeling. Die gevoel is dat hulle oor die hoof gesien word as moontlike begunstigdes.
Terugvoer van George-munisipaliteit en die provinsiale departement van behuising dui daarop dat die meeste van die inwoners nie kwalifiseer vir ten volle gesubsidieerde huise nie. Die stelling word egter deur inwoners in twyfel getrek.
“Met die opname van inligting van die verskillende huishoudings verlede week is daar bloot papiertjies na die huise gegooi, wat hulle self moes invul. Dit was soos ‘n klap in die gesig,” het Hendricks gesê.
“Dalk was daar destyds mense wat gewerk het en meer as R3 500 per maand verdien het, maar tans is die meeste mense wat hier bly werkloos. Dit het baie toegeneem na Covid. Die ouens voel hulle word eenvoudig ge-dismiss, dat hulle nie ‘n prioriteit is nie, terwyl hulle destyds huise beloof is. Hulle sal met die munisipaliteit op ‘n oop stuk grond sit en gesels, dit hoef nie in die saal te wees nie.”
Die Rosedale-gemeenskapsaal is op Dinsdag 7 Junie beskadig en gebrand, kort na ‘n wykskomiteevergadering. Sedertdien is die atmosfeer in Rosedale gespanne.
Volgens Hendriks moes mense wat kroniese behandeling moet ondergaan, asook bejaardes wat mediese hulp benodig het, na die aansluiting met die hoofpad, Beachweg, aangery word, waar hulle deur ambulanse opgetel is.
“Die ambulanse kon nie gisteraand Rosedale binnekom nie,” het hy gesê. “Die hoop is dat daar dringend kommunikasie van die munisipaliteit sal plaasvind. Ons sou 14 en 15 Junie vergader, maar dis uitgestel na die saal gebrand is.”
Terugvoer van George-munisipaliteit word afgewag.
‘n Groep inwoners staan in Rosedale se hoofstraat waar mobiele toilette en motorbande vroeër vanoggend gebrand is.
Die toneel tans in Rosedale, na voortdurende protesaksie sedert gisteraand 20:30.
GO GEORGE SERVICE ALERT: ROSEDALE
Due to renewed community unrest, services into Rosedale will be suspended, with Rosedale passengers boarding and disembarking in Beach Road until further notice.
Verwante artikel: Huisnood: PK Fury boils over
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'