Gallery
GEORGE NUUS - Die binnekant van Rosedale-gemeenskapsaal lê in puin na ’n protesaksie Dinsdagaand, 7 Junie, deur inwoners van Rosedale-plakkerskamp, of die PK, soos Rosedalers daarna verwys.
"Dit lyk soos ons voel," het een van die inwoners tydens 'n besoek van George Herald Woensdagoggend, 8 Junie, gesê. Die spil van hul woede lê rondom hul behoefte aan behuising in Reigerpark, die nuwe behuisingsontwikkeling langs die PK.
Lede van die openbare orde eenheid van die polisie, die brandweer en munisipale wetstoepassing was Dinsdagaand op die toneel, nadat inwoners oproerig geraak het.
Wyksraadslid Melvin Roelfse het met wykskomiteelede binne die saal vergader, maar inwoners wou hom graag te woord staan oor probleme in hul wyk.
Volgens inwoners was hy nie genoeë om na buite te kom nie, en het hy later vir polisiebegeleiding gevra om die gebou te verlaat.
FOTOGALERY: Rosedale-plakkerskamp na protesaksie op 7 Junie
Nadat almal uit is, het hulle motorbande gebrand en die gebou aan die binnekant gevandaliseer.
"Rubberkoeëls het geklap en skokgranate het gevlieg," vertel 'n groep inwoners wat Woensdagoggend voor die saal saamgedrom het om die vorige nag se verhaal te vertel.
Stilte voor die storm
Volgens John Hendricks, 'n inwoner van die PK, was daar aanvanklik 'n rustigheid in die gemeenskap ná protesaksie verlede week.
Inwoners van die PK het verlede Woensdag, 1 Junie, gepoog om van die leegstaande, nuutgeboude huise in Reigerpark, 'n behuisingsontwikkeling langs die plakkerskamp, te beset.
"Ons wou eintlik net hul aandag trek, dit was 'n kreet om hulp," het 'n inwoner gesê.
Inwoners beweer van die huise in die ontwikkeling staan leeg, ander word aan mense van ander provinsies gegee, of mense wat nog nie tien jaar op die behuisingswaglys is nie.
Hulle voel die huise is aanvanklik aan Syferfontein en Rosedale belowe, maar nou moet hulle toesien hoe ander daar intrek, of hul huise uitverhuur aan buitelanders wat huiswinkels bedryf.
Die vergadering
Inwoners is 'n vergadering beloof, wat wel verlede Donderdag 2 Junie geskied het. Maandag 6 Junie sou afgevaardigdes van die munisipaliteit begin met 'n opname van elke gesin in die PK se behoeftes. Daarna sou hulle op 'n afgespreekte tyd terugvoer gee en kyk hoe hulle kan help.
"In stede daarvan, het die munisipaliteit 'n blinkhokkie [noodbehuising] vir 'n gestremde vrou en haar kind kom opsit. En dit nadat ons vertel is geen noodbehuising word meer verskaf nie," het Hendricks gesê.
"Ons sal eerder wou hê dat die vrou 'n huis kry, maar nou breek die munisipaliteit hul eie reëls en hulle kom nie na ons soos beloof nie. Dis hoekom die mense so broos is."
Direkteur beplanning, ontwikkeling en behuising, Lauren Waring, het na verlede week se protesaksie bevestig dat die gemeenskap weldra terugvoer sal ontvang en dat 'n rekonsiliasie van alle inwoners in die informele area sal geskied om te bepaal wie in aanmerking geneem kan word vir ‘n behuisingeleentheid en wie nie. "Laasgenoemde inligting sal tydens ‘n terugvoervergadering met die gemeenskap gedeel word," het sy gesê.
"Die behuisingsdepartement sal werksessies met die inwoners onderneem om almal in staat te stel om hul status op die munisipale waglys en op die subsidie-databasis te bevestig."
Warring het ook gesê die Rosedale informele area het voorsiening gemaak vir 80 noodbehuisingsgeleenthede en 450 behuisingsgeleenthede vir diegene wat die langste op die waglys is.
"Daar bestaan verwarring oor die toekenning van die behuisingsgeleenthede aangesien sommige van diegene wat nie ‘n ooreenkoms met die munisipaliteit gehad het nie om daar te bly, ook op ‘n behuisingeleentheid in die nuwe behuisingsprojek aanspraak maak."
'n Lys met griewe soos verwoord deur die PK-inwoners Woensdagoggend, is aan George-munisipaliteit vir kommentaar gestuur. Navrae oor beweerde gewelddadige optrede deur die polisie is ook vir kommentaar gestuur. Sodra terugvoer ontvang word sal dit aanlyn beskikbaar gestel word.
A woman and her baby walk through a street in Rosedale informal settlement on Wednesday morning, 8 June. In the background, the houses of the new development in Reigerpark are clearly visible. The contrast between the informal settlement and new development is glaring.
Sergeant Christopher Spies on the protest action Tuesday evening 7 June:
Pacaltsdorp police opened a public violence case in connection with protest which erupted following a public meeting at Rosedale, Pacaltsdorp last night (2022-06-07).
Reports from scene suggest that a scuffle ensued inside the hall where after group of protesters burned tyres near the entrance to the hall. They also pelted vehicles with stones resulting in the injury of at least one person and damaged the community hall.
Public order police were dispatched to the area just after 19:00 last night. Reinforcements from neighbouring stations were also deployed to stabilise the situation. Members later dispersed the group.
Our public order police members are still on the ground to monitor the situation. They will remain in the area until order is restored.
Vorige protesaksie
Volgens sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, is 'n saak van aanhitsing tot openbare geweld geopen na die voorval verlede Woensdag, 1 Junie.
"Beskikbare verslae dui daarop dat 'n groep betogers bymekaargekom het en die pad versper het. Hulle het ook deure en vensters van huise by 'n nabygeleë behuisingsontwikkeling beskadig. Die polisie is na die toneel gestuur en het die groep uiteengejaag. Geen arrestasies is nog gemaak nie," het Spies gesê.
Direkteur beplanning, ontwikkeling en behuising, Lauren Waring:
Die inwoners van Rosedale informele area is ontevrede omdat sommige gesinne wat daar woon, nie in aanmerking mag kom vir ‘n behuisingsgeleentheid in die Erf 325-Oos-behuisingsontwikkeling nie. Die Rosedale informele area het voorsiening gemaak vir 80 noodbehuisingsgeleenthede en 450 behuisingsgeleenthede vir diegene wat die langste op die waglys is.
Daar bestaan verwarring oor die toekenning van die behuisingsgeleenthede aangesien sommige van diegene wat nie ‘n ooreenkoms met die munisipaliteit gehad het om daar te bly nie, ook op ‘n behuisingeleentheid in die nuwe behuisingsprojek aanspraak maak.
Voorts is daar ook verwarring oor die toekenning van behuising aan bejaardes, maar is aan die komitee verduidelik dat bejaardes nie in dubbelverdiepingwoonstelle geplaas kan word nie en moet hulle wag vir enkelwooneenhede.
Die oorhandiging van die verskillende tiepe topstrukture vind plaas nadat die provinsiale departement van menslike nedersettings, wat die ontwikkelaar is, voltooide huise beskikbaar stel wat aan goedgekeurde deelnemers oorhandig moet word. Voorts is daar ook persone wat gestremd is wat nog nie in wooneenhede geplaas is nie.
Laasgenoemde is aan die komitee verduidelik dat die gedeelte waarop die informele area gevestig is, aanvanklik vir die doel gereserveer was omdat hierdie gedeelte ‘n gelyke area is en ook naby die hoofpad geleë is.
Vanweë die feit dat daar nie met die oorsponklike beplanningsproses voortgegaan kan word nie omdat daar persone in die informele area is wat nie nou in aanmerking geneem kan word vir ‘n behuisingsgeleentheid nie, is alternatiewe grond geïdentifiseer waarop die huise vir persone in rolstoele gebou gaan word.
Gesinne wie se inkomste R3 500 per maand oorskry kwalifiseer nie vir ‘n HOP-huis nie.
Baie van die mense (wat nie meer as R22 000 per maand verdien nie) is ook nie kredietwaardig nie en kan derhalwe nie vir lenings by die onderskeie banke bekom om van die FLISP-behuisingsprogram gebruik te maak nie.
Daar is nou 'n nuwe beleid wat toelaat dat ander vorms van befondsing gebruik word om 'n FLISP-subsidie te verseker. Dit is aan die verteenwoordigers verduidelik.
Die munisipaliteit gaan nou ‘n rekonsiliasie doen van alle inwoners in die informele area om te bepaal wie in aanmerking kan kom vir ‘n behuisingsgeleentheid en wie nie. Laasgenoemde inligting sal tydens ‘n terugvoervergadering met die gemeenskap gedeel word.
Die behuisingsdepartement sal werksessies met die inwoners onderneem om almal in staat te stel om hul status op die munisipale waglys en op die subsidie-databasis te bevestig.
Die kontras tussen die plakkerskamp in Rosedale en Reigerpark se nuwe huisies, is onmiskenbaar. Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'