Update
GEORGE NUUS - Vier van die ses staatsgetuies in die bedrogsaak van oudraadslid Henry Jones, gaan tot Julie moet wag voor die hof hulle getuienis kan aanhoor.
Die saak het verlede Donderdag, nadat dit verskeie kere weens Jones se mediese probleme uitgestel is, in alle erns in die George-landdroshof begin.
Jones se behoefte aan 'n nuwe pasaangeër het die hof verlede Vrydag 14 Mei egter weereens genoop om die saak tot 8 en 9 Julie uit te stel. Nog 'n sitting is vir 19 en 20 Julie geskeduleer.
Jones word daarvan beskuldig dat hy in sy termyn as portefeuljeraadslid van die George-raad bedrog gepleeg het deur die onwettige verkoop van Hop-huise. Hy is sedert verlede jaar November onder huisarres geplaas.
Op versoek van Jones se regsverteen-woordiging (Legal Aid) word hy tyd gegun om sy pasaangeër te vervang. Dié operasie vind op 24 Mei plaas, waartydens hy ook inspuitings agter sy oë sal ontvang om bloedklonte te verhoed.
Jones het aangevoer dat hy sukkel om tydens die verhoor te konsentreer, kortasem raak en dat sy visie belemmer word as gevolg van 'n diabetiese toestand. Bo en behalwe die hartkwaal is Jones ook gediagnoseer met kolonkanker.
Die staatsaanklaer, adv. Xolile Jonas, het nie beswaar teen die versoek om uitstel aangeteken nie. Landdros Praglathan Govender het dit duidelik gestel dat stawende dokumentasie in die vorm van 'n mediese verslag met die volgende verskyning ingedien moet word. Hy het gesê dit sal bepaal of verdere uitstelle weens mediese redes in die toekoms oorweeg sal word. Hy het Jones ook daarop gewys dat mediese verslae 'n versoek om uitstel in die vervolg moet vergesel.
"Ek wil graag die saak finaliseer. Dit kan nie so aangaan nie. Maar, weereens, het die beskuldigde 'n mediese toestand," het Govender gesê.
Jones het voor die hofverrigtinge aan George Herald gesê dat hy glad nie wel voel nie. Hy het gesê dat die lang ure op die hofbanke sy tol eis. Bo en behalwe die vier staatsgetuies wat nog hul getuienis moet lewer, gaan Jones en sy voormalige lewensmaat, Christa Alaart, op 'n stadium vir die verdediging getuig.
Vorige artikels:
- Jones-saak vorder nou na hibernasie
- Jones case to continue in March next year
- Jones-saak begin einde Maart
- Jones-saak gaan voort in die nuwe jaar
- Henry Jones nou onder huisarres
- Jones nou onder huisarres
- Jones dalk borgtog kwyt
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'