GEORGE NUUS - Die voormalige George-raadslid Henry Jones, is moontlik sy borgtog kwyt nadat hy versuim het om Maandag 11 November in die George-landdroshof te verskyn. Dit is die derde keer, sedert sy bedrogsaak op 30 September begin het, wat Jones vir sy hofverskyning afwesig was.
'n Lasbrief is vir sy inhegtenisname uitgereik en Jones is gister, 13 November, vanuit die selle begelei om aan die hof te verduidelik hoekom hy nie Maandag opgedaag het nie.
Intussen het sy regsverteenwoordiger, Kerneels Meyer, hom aan die saak onttrek. 'n Gebrek aan kommunikasie en dreigemente van sy kliënt, sowel as minagtende optrede van diegene wat hy wel kon bereik, is as redes vir Meyer se besluit aangevoer. Jones het die hof vir uitstel gevra sodat hy 'n "goeie advokaat" kan aanstel.
Jones pleit onskuldig op 11 aanklagte van bedrog en 'n aanklag van diefstal. Hy word onder meer daarvan beskuldig dat hy gesubsidieerde plotte en HOP-huise in Rosedale onwettige verkoop het gedurende sy termyn as portefeuljeraadslid vir behuising.
Oor sy versuim om Maandag by die hof op te daag het Jones gesê hy wil sy eie saak stel. Hy het mediese hulp vir sy swak gesondheid gesoek en besit nie tans 'n selfoon nie. Die dokumente wat die hof in die verband ontvang het, was nie oortuigend nie.
Henry Jones.
Landdros Praglathan Govender, wat die saak aanhoor, het aan Jones gesê dat indien hy in staat was om 'n bus na die hospitaal te haal, hy ook in staat was om met 'n bus by die hof op te daag.
Jones het op 'n stadium vanuit die beskuldigdebank gesê dat hy nie in 'n toestand is om getuienis in die hof af te lê nie: "Daarom wil ek hê die saak moet klaarmaak." Hy het ook beweer dat hy nie meegedeel is dat hy in Oktober moes verskyn nie.
Govender, wat die saak aanhoor, het voorgestel dat Jones eerder regsverteenwoordiging ontvang om sy borgtogsituasie te hanteer aangesien hy "in sirkels" praat. Dit was nie op daardie stadium nodig om te getuig nie, maar slegs om onder eed te verklaar hoekom hy nie die hofsitting Maandag kon bywoon nie.
Die saak het gister verdaag sodat Jones onder polisiebegeleiding sy medikasie tuis kan neem. Die saak is voorheen uitgestel tot 11 November vir 'n mediese verslag oor Jones se gesondheid. Jones is 'n diabeet, hy is gediagnoseer met kolonkanker en het ook 'n hartkwaal. Teen druktyd gister was dit onduidelik of die saak dieselfde dag sou voortgaan en of dit uitgestel sal word.
Voormalige George-raadslid Henry Jones tydens 'n praatjie deur Helen Zille, destydse premier, kort voor die verkiesing vanjaar. Jones het die DA op 'n stadium verlaat, maar sy hernude lojaliteit in April bekend gemaak. Foto: Michelle Pienaar
Former George Councillor Henry Jones may forfeit his bail after he failed to appear in the George Magistrate's Court on Monday November 11. This is the third time since the start of his fraud case on 30 September that Jones failed to appear in court. A warrant for Jones's arrest was issued on Monday and he was escorted from the cells yesterday (November 13) to explain to the court why he did not show up. Meanwhile, his legal representative, Kerneels Meyer, withdrew from the case. The case was adjourned yesterday so Jones could go home to take his medication under police supervision. At the time of going to press it was unclear whether the case would continue or whether it will be postponed.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'